Polisieman vas oor ‘beplande roof’ op polisiestasie

Foto: SAPD, Facebook

Foto: SAPD, Facebook

Die Valke het Dinsdag ʼn polisiekonstabel in hegtenis geneem vir sameswering om die Dunnottar-polisiestasie, net buite Springs in Gauteng, van vuurwapens te beroof.

Die 30-jarige konstabel is by dié polisiestasie gestasioneer. Die stasie was op 8 Junie vanjaar die teiken van ʼn gewapende rooftog waartydens ao. Aaron Vusi Mahlangu agt keer geskiet is. Mahlangu was vir twee maande in die hospitaal ná die skietery.

Dit het later aan die lig gekom dat die aanval op die stasie ʼn poging was om vuurwapens te steel. ʼn Maand ná die rooftog is Mduduzi Jali (49)‚ Prince Mnisi-Thobe Zondozi (38) en John Molefe (45) in Kwa-Thema in hegtenis geneem. Hulle het erken dat die konstabel hulle vertel het net een vrouesersant sal op die betrokke dag aan diens wees, terwyl die konstabel buite die stasie sou patrolleer.

Toe die drie by die polisiestasie opdaag, is hulle egter deur Mahlangu en nog ʼn polisiebeampte gekonfronteer, wat teruggeskiet het nadat die rowers op hulle losgebrand het. Die rowers het met leë hande gevlug.

Telefoongesprekke wat die konstabel met die drie verdagtes verbind, het glo intussen aan die lig gekom. Jali en Molefe is steeds in polisieaanhouding, terwyl Zondozi op R10 000 borgtog vrygelaat is. Hulle sal op 13 November weer in die Nigel-landdroshof verskyn.

Die konstabel sal vandag in die hof verskyn op aanklagte van poging tot moord, korrupsie, gewapende roof, sameswering om ʼn misdaad te pleeg, opsetlike saakbeskadiging en die onwettige besit van ʼn vuurwapen en ammunisie.

© RDM News Wire

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Akram ·

Genugtig. Nou roof hulle sommer hulle eie kantore. Dit stel die SAPS in n baie swak lig. Ongelukkig is dit so nou word die hele diens onder die selfde kam geskeer. Maar dit is goed dat die persoon aangekeer is en hoop net dat die reg sal geskied, soos in hof, nie soos in skote nie..

Piet Pompies ·

‘n Familie lid is verbonde aan die SAP ernstig geweld misdaad eenheid KZN Noord, hulle patroleer die N2 op ‘n 24 uur basis en reageer op geweldsmisdaad. Die probleem is dat jou kollega vir jou volgende skof onbekend is aan jou en jy nie weet of die persoon eerlik is of self betrokke is by misdaad. So, kom jy in ‘n skietgeveg kan dit jou kollega wees wat op jou losbrand. Tragies, die manne het baie stres.

GES ·

Ek lig my hoed baie hoog vir ware polisiebeamptes wat hulle werk met toewyding en eer verrig.
Al wat ons kan doen, vanuit ‘n posisie van magteloosheid, is om maar terug te keer na die lewende God ons Vader. Ek glo as dinge totaal hopeloos en verlore is, is redding baie naby. Dit laat my dink aan langafstandatlete. Ons moet net nie struikel en val in die laaste 10 meter na die wenpaal.

BoereBikerBaby ·

niks verbaas my meer nie. Daardie eed wat hul afle wanneer hul polisie word is ook “down the drains” mens kan niks en niemand meer vertrou nie.

Ben ·

‘n Eed aflê in SA? Dit beteken lankal niks en ek twyfel sterk of die lede weet wat ‘n eed is. Selfs die Hipokratis-eed wat dokters aflê, beteken niks as jy nie voldoende geld het nie. Dan is dit net “Next please” en tough-luck as jy nie hope geld verdien nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.