Polisieman vas vir staatsgetuie se moord

Argieffoto

ʼn Polisiebeampte van Port Elizabeth is ná ʼn maande lange ondersoek na die dood van ʼn staatsgetuie in hegtenis geneem.

Tien maande ná Alex Ferreira geskiet en vir dood agtergelaat is in Bethelsdorp is ʼn polisiekonstabel Donderdag vir sy moord in hegtenis geneem.

Ferreira (28) sou getuig in ʼn verhoor oor ʼn bendeverwante moord waarin ʼn polisiebeampte se wapen glo gebruik is.

Ferreira was nie in ʼn getuiebeskermingsprogram nie en was Februarie vandeesjaar by familie toe hy geskiet is. Die verhoor waarin hy sou getuig, het nog nie begin nie.

Die mans wat in daardie saak aangekla word, is konst. Walter Francis (31) en beweerde bendelede Enzorich Kroates (22) en Clement Kogana (29).

Ferreira het vir Kroates en Kogana ʼn rygeleentheid gegee toe hulle glo op ʼn vyand van ʼn ander bende, Denton Rademeyer (24), losgebrand het. Francis het na bewering sy amptelike wapen en ammunisie vir die skietery verskaf. Francis dien steeds in die polisie.

Kol. Priscilla Naidu, woordvoerder van die polisie, het die inhegtenisneming van ʼn konstabel vir die moord op ʼn staatsgetuie bevestig.

Dié beampte het glo saam met bekende bendelede gewerk om Ferreira in Februarie te vermoor.

Die konstabel sal Maandag op aanklagte van moord in die Port Elizabeth-landdroshof verskyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Pop ·

Niks kan my meer skok nie. Ek is immuun. Dis of ons al die goed wat gebeur, en ons van hoor, verwag.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.