Polisieman vas wat glo geld eis om motor terug te besorg

(Argieffoto: SA Polisie)

’n Polisiebeampte verskyn na verwagting vandag in die Pretoriase landdroshof nadat die vervaardigers van ’n ondersoekende joernalistiek- program verlede maand bewerings van korrupsie onder die aandag van die bestuur van die polisie gebring het.

Brig. Mathapelo Peters, woordvoerder van die polisie, sê die polisie se teenkorrupsie-eenheid het ondersoek na die bewerings ingestel waarna ’n konstabel verbonde aan die polisie se honde-eenheid in Silverton in die ooste van die stad onlangs in hegtenis geneem is.

Die bewerings hou verband met ’n gesteelde motor waarvoor polisiebeamptes glo geld geëis het voordat die voertuig aan sy eienaar terugbesorg is.

Die eienaar beweer dat sy motor in Desember verlede jaar in Pretoria tydens ’n huisrooftog gesteel is waarna die polisie die gesteelde motor glo opgespoor het. Die eienaar is in Januarie vanjaar deur polisiebeamptes gekontak en aangesê om R20 000 te betaal voordat sy motor aan hom terugbesorg kan word.

Die eienaar het na bewering die geld betaal en die motor is aan die eienaar terugbesorg.

Peters het motoriste gemaan om niemand te betaal sodat hul gesteelde voertuie aan hulle terugbesorg kan word nie. Dit is ’n kriminele oortreding en motoriste wat hulle daaraan skuldig maak, is in werklikheid medepligtiges aan korrupsie.

Die aangekeerde polisiebeampte staan tereg op aanklag van korrupsie en dwarsboming van die gereg.

Peters sê nog inhegtenisnemings kan nie in dié stadium uitgeskakel word nie. ’n Ondersoek na georganiseerde voertuigdiefstal wat veral verband hou met die betrokke saak duur voort.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

christo ·

Net soos ander professionele mense soos dokters, prokureurs, rekenmeesters en onderwysers van hulle professionele registrasieinstansies se rol geskrap word. Dit beteken dat so ‘n persoon nie weer in die veiligheid of sekuriteitsbedryf kan werk nie.
Dis so jammer dat ek nie ‘n SAPD lid in my huis toelaat as dit nie nodig is nie.
Ek ondersteun my plaaslike gewapende reaksie maatskappy want ek weet wie hy is en dat sy werknemers bo verdenking is en integriteit nie onderhandelbaar is nie

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.