Polisieman vas wat glo broer se vriendin verkrag

boeie

(Argieffoto: SA Polisie)

Die onafhanklike polisieondersoekdirektoraat (Opod) het ’n polisiebeampte van Delft aan die buitewyke van Kaapstad in hegtenis geneem nadat hy na bewering sy broer se vriendin oor die naweek verkrag het.

Ndileka Cola, woordvoerder van Opod, het gesê die polisiebeampte se broer het Sondag ’n partytjie op die boonste verdieping van sy huis gehou.

“Die slagoffer het gesê sy het alkohol gedrink, maar in ’n stadium opgehou drink waarna sy besluit het om te gaan slaap in haar kêrel se kamer op die onderste verdieping van die huis.”

’n Vriend van die vrou se kêrel het haar na die slaapkamer gevolg. Die vrou het gaan slaap sonder dat sy hom opgemerk het waarna sy glo later wakker geword het met haar kêrel se broer, die polisiebeampte, wat besig was om haar te verkrag.

Die vrou het die polisiebeampte van haar af weggestoot waarna hy die vertrek verlaat het.

“Die vriend van haar kêrel, wat blykbaar in dieselfde kamer was toe die beweerde verkragting plaasgevind het, het die vrou gekeer toe sy na haar selfoon wou gryp met die doel om die voorval aan te meld. Hy het haar toe glo ook verkrag.

“Sy het hulpeloos gehuil en geskree terwyl hy haar verkrag het, maar niemand het haar gehoor nie.”

Volgens Cola is die voorval later by die polisiestasie in Delft aangemeld en die vrou is na ’n hospitaal gestuur vir mediese behandeling. Dit is nie in dié stadium duidelik of die vriend van haar kêrel ook in hegtenis geneem is nie.

Argieffoto: SAPD

Intussen is nog ’n polisiebeampte skuldig bevind en gevonnis nadat hy ’n vrou meer as ’n dekade gelede in die polisieselle van die polisiestasie in Mthatha in die Oos-Kaap verkrag het.

Cola het gesê ao. Mhlobo Ishmael Mpela is ná ’n uitgerekte ondersoek verlede week tot 18 jaar tronkstraf in die Mthatha-streekhof gevonnis op aanklagte van verkragting. Die voorval het in 2009 gebeur.

Mpela het destyds nagskof saam met ’n vroulike kollega by die polisieselle gewerk waar verhoorafwagtende verdagtes aangehou word.

“Die ondersoek deur Opod het aan die lig gebring dat die verdagte sy vroulike kollega opdrag gegee het om ’n ongeluk te hanteer waarna hy dadelik na die selle is waar vroulike verdagtes aangehou word en die slagoffer geroep het onder die voorwendsel dat sy ’n oproep gehad het. Die slagoffer, wat ’n verhoorafwagtende was, het reeds geslaap toe sy ontbied is.”

Mpela het die vrou aangesê om na ’n stoorkamer te gaan. Hy het haar gevolg waarna hy die deur toegemaak en haar verkrag het. Die vrou het om hulp geskree hoewel niemand haar gehoor het nie.

Die slagoffer het die voorval die volgende oggend aangemeld waarna Mpela in hegtenis geneem en later op borgtog vrygelaat is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Misky ·

Die laaste voorval het 11 jaar gelede gebeur en hy was op parool uit….. hoeveel nog is nie verkrag nie en hoe is dit moontlik dat enige saak so lank kan sloer….. belaglik verby

Niklaas ·

Deesdae hoor ons heeltemal teveel van sulke gevalle . As daar behoorlike en voldoende strawwe toegepas word , sal sulke aanvalle ook verminder. Mag geregtigheid seëvier

Veronika ·

Ja kleintyd is jou gesê as jy stout is gaan die polisie jou kom vang, toe jy groter is, was dit as jy in die moeilikheid is hardloop na die naaste poliseman (wat toe nog per voet oral geloop en patroleer het). Maar nou is dit hardloop so vêr as moontlik weg vd polisieman……………………?????

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.