Polisieman vermoor vir wapen

Foto bloot ter illustrasie. (Argieffoto)

Twee verdagtes is die afgelope naweek vinnig vasgetrek nadat hulle glo ʼn sersant verbonde aan die Ladysmith-honde-eenheid in ʼn oënskynlike hinderlaag vermoor het. Die motief hiervoor was glo om die beampte van sy dienspistool te beroof.

Brig. Jay Naicker, polisiewoordvoerder, sê ʼn polisiebeampte wat van diens af was, het om 18:00 Saterdag in Steadville in KwaZulu-Natal gery toe ʼn motor hom van agter af getref het.

“Toe hy uit sy motor klim om ondersoek in te stel, is hy verskeie kere van ʼn kort afstand geskiet,” sê Naicker.

“Hy is op die toneel dood en sy dienspistool én beursie is deur die vermeende aanvallers gebuit voordat hulle van die toneel af gevlug het.”

Polisielede oor die hele uThukela-distrik het onmiddellik opgetree en die verdagtes in die Ezakheni-omgewing opgespoor.

Die polisie het twee mans, onderskeidelik 25 en 30 jaar oud, in hegtenis geneem en beslag gelê op die motor wat glo tydens die misdaad gebruik is.

“Die oorlede polisiebeampte se vuurwapen, asook die wapen wat deur die verdagtes gebruik is, is ook deur die polisie teruggevind.”

Volgens Naicker blyk dit in dié stadium dat die verdagtes die beampte wou beroof.

Die twee mans sal na verwagting eersdaags in die Ladysmith-landdroshof verskyn. Aanklagte van moord en roof staar die twee nou in die gesig.

Lt.genl. Nhlanhla Mkhwanazi, provinsiale polisiekommissaris in KwaZulu-Natal, het intussen die betrokke beamptes bedank vir hul vinnige optrede wat tot die inhegtenisneming van twee vermeende polisiemoordenaars gelei het.

“Misdadigers wat aanhou om polisiebeamptes te moor vir hul vuurwapens, hoort nie in ons samelewing nie. Ek is baie verlig dat die twee verdagtes in hegtenis geneem is en ek hoop dat die strafregstelsel sal verseker dat hulle blywend uit die samelewing verwyder word.”

Mkhwanazi het ook sy meegevoel met die oorledene se vriende en familie betuig.

“Ons sal alles in ons vermoë doen om te verseker dat die skuldiges die gepaste vonnisse vir hul optrede opgelê word.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Anel ·

En vanmiddag loop hulle vry rond. Op borg van R500. 00 vrygelaat!

Pierre ·

ek is dankbaar hulle is vas getrek, maar elke verlies aan lewe verdien dieslefde flinkheid nie net as jy in blou is nie.

Shakespeare ·

Cele. Jy wil wettige wapens onteien nê ?
My raad aan jou is……… BEDANK !!!!
Voordat jy bedank vaardig liewers ‘n bevel uit dat alle SAP lede hul wapens inhandig as hulle van diens af gaan.

SjN ·

Johan, die probleem is nie die private wapens nie maar wel die onwettige wapens.

christo ·

In sekere lande soos Kanada, word vuurwapens ingehandig. Ongelukkig word beamptes wat misdaad sake ondersoek, soos dwelmhandel, dikwels geteiken en vermoor terwyl hulle van diens af is.

Friedrich ·

As die doodstraf nog n ding was sou hulle dalk tweekeer dink voor hulle moor.

Swerwer ·

Sit jul misdadigers, geen borgtog want hul hoort nie in die samelewing nie!

Di ·

Ek persoonlik dink dat daar meer sit agter al hierdie aanvalle op polisielede. Elke week is daar berugte van polisielede wat aangeval of geskiet is. Begin ondersoek by DIE wat gedreig het om polisie lede aan te val

christo ·

Polisielede sal heropleiding moet ondergaan om hulle self te verdedig. Die huidige wetgewing is ook totaal onvoldoende en beskerm die oortreders meer as wetstoepassers.

christo ·

Hierdie polisiebeampte is vir ‘n geruime tyd dop gehou. Hoe anders het hulle geweet dat hy ‘n polisiebeampte is?

Waarnemer ·

Die vraag is waarom as die betrokke lid van diens af was,het hy sy dienspistool by hom gehad?Is dit nie meer n vereiste dat n vuurwapen veilig in n kluis gebere behoort te word wanneer dit nie in gebruik is nie?Indien die betrokke lid van diens af was,was sy dienspistool nie in gebruik nie en moes hy dit veilig weggesluit het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.