ʼn 39-jarige polisiebeampte is Maandagoggend op pad werk toe voor sy huis in Kaapstad doodgeskiet.
Konst. Noloyiso Rwexana, provinsiale polisiewoordvoerder van die Wes-Kaap, het gesê die beampte, ʼn konstabel van die Grassypark-speurtak, is omstreeks 06:15 in sy motor voor sy huis in Hlosistraat in Philippi-Oos doodgeskiet.
“Die beampte was op pad werk toe en het in sy ongemerkte ampsmotor gesit toe hy deur ʼn onbekende aantal verdagtes aangeval, geskiet en van sy dienspistool beroof is,” het Rwexana gesê.
Die polisie ondersoek ʼn saak van moord. Die polisie doen ʼn beroep op die publiek om met inligting vorendag te kom wat hulle in hul ondersoek kan bystaan. Bel ao. Alfred Baker van die Valke by 071 351 7464.