Polisieman vyf keer met dienspistool geskiet

Mandlenkosi Happy Thwala (Foto: Verskaf)

’n 45-jarige polisiebeampte is Woensdag dood met vyf koeëlwonde in sy huis in die Gedlembane-nedersetting by Pienaar, Mpumalanga, aangetref.

’n Vrou is net ná Mandlenkosi Happy Thwala, ’n polisieman gestasioneer by die Kabokweni-polisiestasie, se dood aangekeer.

Volgens brig. Selby Mohlala, polisiewoordvoerder, het een van Thwala se bure die polisie na die huis ontbied nadat dié ’n oproep van Thwala se ma ontvang het. Die ma het die buurman gevra om te gaan kyk of haar seun (Thwala) in die huis is omdat sy vermoed dat haar seun dalk vermoor is.

“By die polisie se aankoms op die toneel het hulle Thwala leweloos op die bed aangetref. Hy het vyf koeëlwonde aan sy lyf gehad.”

Thwala is na bewering vyf keer met sy eie dienspistool geskiet, twee keer in die kop en drie keer in sy bolyf.

“Paramedici is na die toneel ontbied en het die polisiebeampte op die toneel dood verklaar.”

Twee koeëldoppies is op die vloer van Thwala se voertuig, ’n groen Volkswagen Polo Classic, gevind. Sy dienspistool en selfoon wat vermis was, is later in ’n nabygeleë veld gekry.

“Terwyl die polisie ’n padblokkade by Newscom in Pienaar beman het, het ’n voetganger beamptes genader en ingelig dat hy ’n vuurwapen langs die pad, ’n paar meter van die padblokkade, opgemerk het. Dit is later vasgestel dat die vuurwapen aan Thwala behoort.”

’n 29-jarige vrou is binne 24 uur ná die moord in Dayizenza aangekeer. Sy het daar in haar kêrel se huis weggekruip.

“Saak van moord met ’n bykomende aanklag van roof is aanhangig gemaak.”

Lt.genl. Semakaleng Daphney Manamela, provinsiale polisiekommissaris in Mpumalanga, het onderneem dat die polisie in samewerking met die gemeenskap sal verseker dat die skuldige aan die pen ry.

Sy het ook haar kommer oor die moord op polisiebeamptes beklemtoon.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Asgat ·

Dalk was hy besig met n’ ondersoek teen haar of haar mans vriend?

Miena ·

Laat mens wonder hoe het die ma geweet om n buurman te bel en te vra om te gaan kyk want sy vermoed hy is vermoor

Swerwer ·

Hallo, bekommerd oor die moord op polisiemanne maar gee nie ‘n duit om as ‘n boer vermoor word nie.

domheks ·

Hoekom verplig hulle nie die polisie om hulle wapens in te handig as hulle van diens af is nie. Lees te veel kere dat hulle vroue en kinders vermoor met dienswapen.Dan sal die wapens ook nie so verlore raak nie! Hoeveel van die polisiemanne het kluise by die huis/shack?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.