Polisieman wat van diens af is, help boewe vastrek

Die vuurwapen waarop daar beslag gelê is. Foto: SAPD

ʼn Polisiebeampte van Limpopo wat amptelik met verlof en van diens af was, het Dinsdag vinnig opgetree om twee verdagtes te help vastrek voordat hulle daarin kon slaag om ʼn winkel te beroof.

Kapt. Manong Tshehla, woordvoerder van die polisie, het gesê die adjudantoffisier, wat verbonde is aan die Zaaiplaas-polisiestasie, was met verlof toe hy deur ʼn WhatsApp-boodskap bewus geword het van verdagtes wat op pad was om ʼn plaaslike winkel te beroof.

Eerder as om die werk oor te laat aan sy kollegas wat wel aan diens was, het die adjudantoffisier sonder om te huiwer dadelik in sy private motor gespring en hom na die toneel by die Sephaku-nedersetting naby Groblersdal gehaas. Daar het hy hom by lede van die plaaslike polisiestasie aangesluit en die beamptes kon daarin slaag om op die twee verdagtes toe te slaan voordat hulle die rooftog kon uitvoer.

“Die verdagtes het probeer om van die polisiebeamptes te vlug. Een het ʼn vuurwapen te voorskyn gebring, maar is in die been geskiet voor hy dit kon gebruik. Albei verdagtes is in hegtenis geneem,” het Tshehla gesê.

Volgens Tshehla is ʼn Okapi-mes in die tweede verdagte se besit gevind. Beamptes het op ʼn pistool beslag gelê wat vir ballistiese toetse gestuur sal word om te bepaal of dit voorheen in die uitvoer van ander misdade gebruik is.

Die verdagtes sal binnekort in die hof verskyn op aanklagte van sameswering tot sakeroof, die onwettige besit van ʼn vuurwapen en die besit van ʼn gevaarlike wapen.

Tshehla het die adjudantoffisier geloof vir sy toewyding en vinnige optrede wat gehelp het om die verdagtes aan te keer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

latie ·

gee daai af diens r15 000 belonging hy doen plig vir sy land en veiligheid vir publiek trots daarop

Cherokee ·

Jy oordryf met die ‘belonging’ wat jy voorstel. Vele lede van die (eerlike) publiek sou dit ook gedoen het selfs al belong hulle nie eens aan die polisiediens nie.

kas ·

Daar is weer ‘n bewys dat daar nog toegewyde polisiebeamptes is wat hulle mense met toewyding en trots dien en nooit”met verlof is nie”Welgedaan adjudant,ek is trots op jou.

Lee ·

Dis mos die regte manier hoe beamptes moet optree. Wonderlik. Wens net daar was meer van hulle.

Nodig ·

Dis wat ons nodig het in ons land. Trots op jou adjudant. Verdien n bonus.

Francois Geldenhuis ·

Die beampte se toewyding is verblydend en n voorbeeld vir baie!! Knap gedaan!!
Die vraag ontstaan oor die spesifieke whatsapp groep.
Is dit deur die SAP geskep of deur die gemeenskap?
Is die inligting deur SAP verskaf of gemeenskap?
Die rede vir die vrae is dat SAP dalk meer moet belê in gemeenskaps betrokkenheid en samewerking met verskillende veiligheids groepe (whatsapp)..

Al ·

Dis lekker en positiewe nuus. Ek saluut jou adjudant vir jou onbaatsugtige optrede. Kan ons jou nie kloon nie?

Marie ·

Baie baie dankie adjudant so trots op jou, wens daar was baie meer soos jy, hoop jy kry die erkenning wat jou toekom. Met mense soos jy is daar hoop vir die polisie!!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.