‘Polisiemanne’ beroof glo taxi-bestuurder

Argieffoto. (Foto: JOE RAEDLE / GETTY IMAGES NORTH AMERICA/Getty Images via AFP)

’n Man wat as bestuurder vir ʼn “e-hailing”-taxidiens werk is Maandag op die R102 tussen Verulam en Tongaat in KwaZulu-Natal deur vier mans beroof. Dié mans het hulle glo voorgedoen as polisiebeamptes.

Volgens Prem Balram, woordvoerder van Reaction Unit South Africa (Rusa), het die sogenaamde polisiebeamptes die bestuurder in sy blou Renault Triber glo van die pad laat aftrek.

“’n Man het langs die pad gestaan en beduie dat die bestuurder moet aftrek. Daar was twee mans wat langs ’n ongemerkte wit Volkswagen Polo-sedan gestaan het. ’n Derde man het in die voertuig gesit,” sê Balram.

“Die man het gedink hulle is polisiemanne en het afgetrek. Nie een van hulle het egter ’n uniform aangehad nie.”

Die mans het glo die bestuurder se motor genader en hom uitgevra oor sy beroep as bestuurder van ʼn e-hailing-taxidiens. Hy het dit aanvanklik ontken toe een van die mans aan die passasierskant geklim en ’n vuurwapen uitgeruk het.

“Die mans het die bestuurder se selfoon glo oopgemaak en het na die toepassings op sy foon gekyk. Toe hulle vasstel dat hy ʼn bestuurder van ʼn e-hailing-taxidiens is, het hulle geëis dat hy kontant oorhandig. Die slagoffer het gedoen wat hulle vra.

“Die mans wou sy voertuig ook neem, maar die brandstof was glo te min.”

Die bestuurder kon daarin slaag om ’n paniekknoppie wat aan Tracker gekoppel is te aktiveer. Rusa het om 16:12 ’n oproep van Tracker gekry om te gaan kyk wat aangaan.

“By Rusa-beamptes se aankoms op die toneel het hulle die motor en bestuurder daar aangetref. Hy het die beamptes ingelig dat die verdagtes in ’n Volkswagen Polo gevlug het. Hy was in ’n toestand van skok, maar verder ongedeerd.”

’n Kriminele saak is aanhangig gemaak by die Tongaat-polisie. Maroela Media het navraag aan die polisie gerig, maar wag nog op terugvoer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Swerwer ·

Oulik……………..dit is mos die opvoeding van die kommunis

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.