Polisiemanne hou glo gekaapte kar

Argieffoto: SAPD

Argieffoto: SAPD

Twee Gautengse polisiebeamptes moet Vrydag in die hof verskyn nadat hulle glo ʼn gekaapte motor waarop hulle beslag gelê het, gehou het.

Lt. Kay Makhubela, provinsiale polisiewoordvoerder, het aan Maroela Media bevestig die beamptes is Woensdagaand in Tembisa, tussen Pretoria en Johannesburg, in hegtenis geneem. Hulle is albei konstabels van die Tembisa-polisie.

“Die beamptes het Saterdag die motor tydens ʼn stop-en-deursoek-operasie van die pad afgetrek,” het Makhubela gesê. “Die bestuurder het weggehardloop en dit is daarna vasgestel dat die motor vroeër die naweek in Daveyton gekaap is. Die beamptes het egter na bewering nie die motor ingehandig nie, hulle het dit gehou.”

ʼn Maatskappy wat voertuie opspoor, het die voertuig by een van die konstabels se huise gevind waarna hulle in hegtenis geneem is.

Die twee beamptes moet Vrydag in die Tembisa-landdroshof verskyn op aanklagte van die besit van ʼn gekaapte voertuig.

Die polisie is nog op soek na die bestuurder wat weggehardloop het.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Gerhard Bezuidenhout ·

Skelm,diep skelm. Hoe kan verwag word dat ons hulle moet vertrou.

Uys ·

Ek dink die weg hardloop van ń bestuurder is net n storie. Hulle het dit uit hul duim gesuig en hoop om dan weg te kom daarmee.

Asjas ·

Hulle het seker hul “werk” huis toe gevat. Wou deeglik seker maak dat alles reg is voordat hulle hul “projek” inhandig ;-) by die baas.

Peet Schabort ·

Nêrens staan daar dat hul die voertuig ‘glo gesteel’ het. Eerder het hulle dit ‘in bewaring’ geneem. Hulle wou toesien dat dit nie weer gekaap word. Hu!?

Jakoos ·

Laat die eienaar van die voertuig kom kyk of die twee konstabels nie dalk die kapers ook was nie. Die storie dat die bestuurder weggehardloop het klink heeltemal te goed om waar te wees.

scalla ·

hulle gaan lank soek na die bestuurder wat weg gehardloop het en hom ook nooit kry nie want hy bestaan nie, die 2 krokodille was betrokke

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.