Polisiemanne in hof vir poging tot moord

Argieffoto: SAPD

Argieffoto: SAPD

Twee polisiekonstabels van die Noord-Kaap het Donderdag in die Galeshewe-landdroshof verskyn op aanklag van poging tot moord en diefstal.

Brig. Masebueng Mochologi-Maleeme, woordvoerder van die polisie, het gesê die saak teen konsts. Tshidiso Ambrose Bodigelo (34) en Makwadi Christopher Mashalane (33) is tot 9 April uitgestel wanneer hulle na verwagting om borg sal aansoek doen.

Volgens Mochologi-Maleeme het die konstabels en nog ʼn persoon glo op 29 Maart na ʼn Nigeriese man se huis gegaan. Die konstabels, wat aan diens was, het glo aan die Nigeriër gesê hulle deursoek die huis vir dwelms. Die beamptes het glo die klaer se selfoon en beursie gesteel en later twee onttrekkings by ʼn OTM gemaak.

Die klaer het op 30 Maart ʼn saak van diefstal by die polisie aanhangig gemaak. Die polisiebeamptes het glo dieselfde dag die klaer van sy fiets af gery waarna hy ʼn saak van poging tot moord aanhangig gemaak het.

Mochologi-Maleeme het gesê daar is ook met dissiplinêre stappe teen die beamptes begin.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Pierre Celliers ·

Hei! Dis onse manne in blou!!! Onse Hero’s, kom ons dra hulle op ons skouers en skree:
Viva!, Viva Amapolies! O wee ons!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.