Polisiemanne vas ná hulle glo ander polisieman beroof

Argieffoto: SAPD/Facebook

Twee polisiebeamptes van Limpopo en ʼn lid van die gemeenskap is Woensdagoggend in hegtenis geneem nadat hulle glo ʼn adjudantoffisier en sy vrou beroof het. Die beampte wat beroof is, was glo betrokke by die plaaslike misdaadrekordsentrum in Kempton Park in Gauteng.

ʼn Polisiebeampte van die Mutale-polisiekantoor buite Thohoyandou, ʼn sersant by die Waterval-polisiekantoor buite Louis Trichardt en ʼn lid van die gemeenskap van die Khubvi-nedersetting digby Thohoyandou in Limpopo, sal na verwagting Donderdag in die Mutale-landdroshof verskyn op aanklagte van gewapende roof.

Brig. Motlafela Mojapelo, woordvoerder van die polisie, sê die adjudantoffisier en sy vrou het op die pad tussen die Tshandama- en Khubvi-nedersetting gery toe hulle glo deur insittendes van ʼn Ford Focus-voertuig gevra is om stil te hou. Een van die insittendes het ʼn vuurwapen op die beampte en sy vrou gerig.

Die beampte het aanhou ry totdat nóg ʼn voertuig, ʼn Jeep Cherokee, na bewering die pad van voor af versper het. Hy is gedwing om stil te hou.

Mojapelo sê die insittendes het toe geld en ʼn werktablet by die beampte en sy vrou gesteel.

Die beampte en sy vrou het die voorval daarna by die plaaslike polisie aangemeld.

ʼn Ondersoek deur die polisie het tot die inhegtenisneming van die polisiebeamptes en gemeenskapslid gelei.

Genl.maj. Jan Scheepers, die waarnemende provinsiale kommissaris van die polisie in Limpopo, het die polisie geloof dat hulle die skuldiges so vinnig vasgetrek het. Hy het ook die polisiebeamptes se misdrywe veroordeel.

“Hoewel die meeste lede van die polisie hul take met ywer en integriteit verrig, is daar uitsonderings en beslissende stappe sal gedoen word teen enige lid wat strafregtelike aktiwiteite beoefen,” het Scheepers gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

17 Kommentare

jongste oudste gewildste
Pieter

Hehe net in afrika waar jy sulke goed sien

Termiet

Daar is seker nou meer kriminele in die saps as in die tronk. Hierdie is maar net die oortjies van die seekoei. Geen mens kan hulle vertroue nie.

Pappa Beer

Maar hoe dan nou anders hulle sien dit dan by hulle werkgewers in die regering. In SA is dit deesdae n geval van roof of jy word beroof. Nou gaan “inspector gadget cele” seker weer sy mond vol he en allerhande syfers uit sy agterstewe uitkrap.

Die Wolf

Nou hoe nou? Van Gauteng en in Limpopo aangehou. Wonder waar die grens is?

Frans

Is niks snaaks mee nie