Polisiemanne, wagte geskiet tydens transitoroof

(Argieffoto: Hansie Linde)

Twee polisiebeamptes en twee veiligheidswagte is die naweek tydens ’n transitorooftog in die omgewing van eMalahleni (Witbank) in Mpumalanga gewond.

Brig. Selvy Mohlala, woordvoerder van die polisie, sê twee Mercedes Benz-motors het Saterdag teen ’n hoë spoed op ’n geldwa van Fidelity en twee begeleidingsvoertuie op die N4 afgejaag gekom.

Een van die Mercedes-motors het teen die geldwa gebots en dié het omgeslaan terwyl die ander Mercedes teen een van die begeleidingsvoertuie probeer bots het. Die bestuurder van die begeleidingsvoertuig kon egter uitswaai en ’n botsing voorkom.

’n Skietery het tussen die veiligheidswagte en sommige van die transitorowers uitgebreek terwyl die ander rowers die omgeslaande geldwa met plofstof oopgeblaas het.

Twee veiligheidswagte is in die proses beseer.

Lede van die polisie in Middelburg se blitspatrollie was tydens die voorval toevallig op patrollie en het opgemerk dat die verkeer opeenhoop.

Die polisiebeamptes het ondersoek ingestel maar is by aankoms op die toneel deur ʼn ander groep verdagtes in ʼn Mazda in ʼn lokval gelei. Twee van die beamptes is in die proses geskiet terwyl ’n derde ongedeerd van die voorval afgekom het.

Die verdagtes het daarna almal in ’n grys Audi en die Mazda gevlug en is sedertdien steeds soek. Die gewonde veiligheidswagte en polisiebeamptes is ná die voorval hospitaal toe geneem vir mediese behandeling.

Mohlala sê ’n 44-jarige man is intussen boonop in hegtenis geneem nadat hy in die besit van ’n groot bedrag geld betrap is wat vermoedelik op die toneel van die transitorooftog gesteel is. Die man het Maandag in die Emalahleni-landdroshof verskyn op aanklag van diefstal.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Harley Davidson ·

Die tipe krimineel blyk goed opgelei te wees nie dat dit veel vat om die huidige polisie te oorrompel nie ,miskien moet die sekerheid maatskappye ander metodes kry om geld veilig te vervoer.

Yvonne ·

O genade…hierdie tipe goed is weer aan die toeneem…..ek weet nie of SAPS hier sal wen nie

Gert ·

Sterkte aan die cash en security ouens dis kerstyd en die diewe weet julle dra groot bedrae geld. Wees versigtig en wakker en moenie kanse vat nie. Hulle sal jou vermoor vir die geld en daai is nie jou lewe werd nie.

Swerwer ·

Gaan my verstand te bowe dat daar nog nie ander plan gesien is na al herdie transito rooftogte nie.
Die Skelm gee nie ‘n duid om vir ‘n ander se lewe nie. Maar nou ja, die land is so boos dat hul vinnig ongemerkte voertuie sal uitsnif om te buit. Die meeste is in elk geval ‘n “inside job”

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.