Polisiemans aangeval, byna vermoor

ʼn Polisiekaptein en -sersant is Maandag in twee afsonderlike voorvalle in Mpumalanga aangeval en ernstig beseer. (Foto: Hansie Linde)

ʼn Polisiekaptein en -sersant is Maandag in twee afsonderlike voorvalle in Mpumalanga aangeval en ernstig beseer.

Intussen het die polisie ’n massasoektog na minstens vier verdagtes wat by dié aanvalle betrokke was, van stapel gestuur.

Kol. Donald Mdhluli, polisiewoordvoerder, sê ʼn 56-jarige polisiekaptein, wie se naam nie bekendgemaak is nie, is deur drie verdagtes in Witbank geskiet en gekaap. Hy was nie tydens die voorval aan diens nie.

Mdhluli sê die verdagtes het hom na ʼn afgeleë, beboste gebied naby Vosman geneem waar hulle hom aangehou en van sy private vuurwapen en geld beroof het. Hy is ook met ʼn skerp voorwerp gesteek. Dit is nie duidelik hoeveel geld hy in sy besit gehad het nie.

“Gelukkig kon hy daarin slaag om veilig weg te jaag terwyl die verdagtes weer op hom geskiet het.

“Die kaptein het hulp ontbied en is na ʼn hospitaal vir verdere behandeling geneem.”

Mdhluli sê ʼn saak van poging tot moord en gewapende roof word tans ondersoek.

In ʼn afsonderlike voorval is ʼn 37-jarige polisiesersant, wie se naam ook nie bekend is nie, in Masoyi naby Witrivier beseer toe ʼn onbekende aantal verdagtes op hom geskiet het.

Volgens Mdhluli het die voorval plaasgevind toe die polisiesersant saam met ʼn kollega op ʼn klagte gereageer het dat ʼn vuurwapen tydens ʼn rooftog gesteel is.

Die polisiebeamptes het op dié verdagte se wegkruipplek toegeslaan, waar skote op hulle afgevuur is.

Die polisiesersant is gewond en sterk tans in ʼn hospitaal aan.

“Die verdagte het gevlug en word deur die polisie gesoek. ʼn Saak van poging tot moord is gevolglik aangegee,” sê Mdhluli.

Lt.genl. Semakaleng Manamela, provinsiale polisiekommissaris in Mpumalanga, het die aanval op die twee polisiebeamptes ten sterkste veroordeel.

“ʼn Aanval op enige polisiebeampte of wetstoepasser is ʼn aanval op die oppergesag van die reg asook die staat.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Kokerboom ·

Ek sê weer: Die SAPD is in ‘n bestaans/oorlewingskrisis!!Die oorsake van hul terminale siekte MOET dringend aangespreek word. Die boewe floreer en lag vir hulle!!
Bly die polisiebeampte is ok

Pablo ·

Die storie maak nie veel sin nie. .”Mdhluli sê die verdagtes het hom na ʼn afgeleë, beboste gebied naby Vosman geneem waar hulle hom aangehou en van sy private vuurwapen en geld beroof het. Hy is ook met ʼn skerp voorwerp gesteek. Dit is nie duidelik hoeveel geld hy in sy besit gehad het nie.”

“Gelukkig kon hy daarin slaag om veilig weg te jaag terwyl die verdagtes weer op hom geskiet het.” Hu?????

Misky ·

Daar was mos nie te lank terug ‘n sekere vent met ‘n rooi pet gewees wat gesê het sy mense is nie bang vir die polisie nie en hulle sal hulle een vir een aanvat selfs in hul privaat huise asook hulle families…… Voor baie getuies gesê ook.

Casper ·

Misky dit wat die knaap kwytgeraak het is aanhitsing van geweld teen polisielede.Hoeveel polisielede is daarna al vermoor en van hulle vuurwapens beroof.Hy moet aanspreeklik gehou word vir daai lede se dood.

Swerwer ·

Hy was nie aan diens nie, so is die hele wêreld veronderstel om te weet hoe elkeen in die SAP lyk en sy besonderhede ken. Hul was op die verkeerde tyd op die verkeerde plek…..of het die moordenaars en kapers eers vir hulle gevra of hul SAP lede is voor hul gekaap en geskiet is? Skrik wakker

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.