Polisieminister bekommerd oor borgtog vir ‘misdadigers’

Argieffoto (Foto; Maroela Media)

Bheki Cele, minister van polisie, sê enorme vordering is in KwaZulu-Natal gemaak om politieke moorde te bekamp sedert ʼn taakspan in Julie vanjaar aangestel is om dié moorde te ondersoek.

Altesaam 48 mense is reeds in hegtenis geneem. “Die polisie gaan aanhou werk om dié soort moorde stop te sit,” het Cele vanoggend tydens ʼn mediakonferensie gesê.

“Hoewel ek tevrede is met die 49 skuldigbevindings wat van Augustus 2017 tot nou gedoen is, is ek bekommerd dat dié soort misdadigers op borgtog vrygelaat word. Ons werk nou saam met die regering se veiligheidsgroepering om te voorkom dat borgtog aan soveel van hulle toegestaan word. Ons is vol vertroue dat ons met dié ingrypings vinniger skuldigbevindings en langer vonnisse kan verseker,” het die minister gesê.

Oor ʼn kwessie wat internasionaal opslae maak – die inhegtenisneming van twee Deense burgers – sê Cele dié saak moet as ʼn waarskuwing dien vir ander wat misdade wil pleeg en dan in Suid-Afrika probeer wegkruip.

Cele het verwys na Anna Britta Nielsin, ʼn Deen wat in haar geboorteland gesoek word in verband met bedrog van ʼn geraamde R247 miljoen, en haar seun Jimmy Hayat.

Die polisie het Hayat op 30 Oktober by die OR Tambo-lughawe in Johannesburg aangekeer. Hy was op pad landuit. Beslag is gelê op R5 000 kontant en twee diamante wat in ʼn sak gevind is. Hy het reeds in die hof verskyn en die saak teen hom is uitgestel.

Hayat se ma is op 1 November in Sandton in Johannesburg in hegtenis geneem. Volgens Cele is kontant van amper R700 000 by haar gevind. Nielsen het ook reeds in die hof verskyn. Die saak is uitgestel hangende ʼn navraag oor uitlewering.

“Suid-Afrika is nié ʼn veilige hawe vir misdadigers nie,” het Cele gesê.

Cele het ook ʼn opsomming gegee van vordering wat op ánder gebiede gemaak is. Hy sê die polisie se sogenaamde 72-uur-aksieplan het gelei tot die inhegtenisneming van twee mense wat verbind word met die Vlakfontein-moorde op die Khoza-familie.

Hy het polisielede bedank wie se harde werk gelei het tot die inhegtenisneming van twee mense wat aangekla word van die moord op die Kaapstadse advokaat Pete Mihalik. Die 50-jarige Mihalik is verlede Dinsdag in sy motor voor ʼn skool in Groenpunt doodgeskiet. Sy twee kinders was saam met hom in die voertuig.

Cele sê polisielede sal tydens die Desembervakansie in groot getalle landwyd ontplooi word. Operasies sal tot minstens einde Januarie in verskeie dorpe en stede onderneem word. Cele sê daar sal gefokus word op sigbare polisiëring, misdaadbewusmakingsveldtogte en misdaadvoorkomingsprojekte.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Santjie ·

Mnr Cele, jy moet nie net “die soort moorde” stop nie – jy moet ALLE moorde stop!! wat verstaan jy nie – nie net politikuste is mense nie

Anoniem ·

Boere is ook mense – mense wat sorg vir ons almal se pense.

HESTER ·

Wat ek opmerk van die berig is dat daar GEEN verwysing na plaas moorde gemaak is nie. Ondersoek hulle dit nie ?Is dit nie in die spesiale taakmag se visier nie. Wonder maar net.!!!!!!

Jan makatan ·

Moord is moord of dit op politikuste, plaasboere , verkragtingslagoffers of kinders is. Kruip onder die hoed uit en kyk na misdaad pleks van pogings om blankes met burokratiese rompslomp te ontwapen.

Karolis ·

Mnr Cele, SA is volgens jou nie ‘n veilige hawe vir misdadigers nie. Jy is op herbal blend.
Vergewis jouself met feite. SA is wel die veiligste heenkome vir misdadigers. Watter ander Afrika land het meer tronke as SA?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.