Polisieminister besoek toneel van Khayelitsha-skietery

Genl. Bheki Cele besoek die huis waar die Khayelitsha-skietery plaasgevind het (Foto: Verskaf)

Genl. Bheki Cele, die minister van polisie, het Dinsdagoggend die huis in Khayelitsha besoek waar altesaam sewe mense Sondag doodgeskiet is.

Brig. Mathapelo Peters, woordvoerder van die polisie, het gesê dié skietery het plaasgevind selfs nadat die Wes-Kaap Operasie Lockdown van stapel gestuur het, ʼn ministeriële ingryping om die misdaadsituasie in die provinsie te stabiliseer.

Maroela Media het vroeër berig ʼn 32-jarige man is Maandag in hegtenis geneem in verband met die Khayelitsha-skietery waartydens ʼn groep mans Sondag in die vroeë oggendure by ʼn huis ingestorm en op die inwoners losgebrand het. Altesaam sewe mense is dood tydens die skietery en nog sewe mense beseer, onder wie ʼn sesjarige meisie.

Die verdagte sal Dinsdag in die hof verskyn op aanklagte van moord en poging tot moord.

Cele het die gruweldaad veroordeel en die multidissiplinêre ondersoekspan versoek om onverpoos te werk om ook die ander verdagtes vas te trek.

Genl. Bheki Cele besoek die huis waar die Khayelitsha-skietery plaasgevind het (Foto: Verskaf)

Nadat dit aan die lig gekom het dat drank ʼn gemene deler in dié kontakmisdaad was, het Cele die polisie opdrag gegee om hande te vat met die onderskeie owerhede om onverantwoordelike drankmisbruik te help bekamp.

Cele het beklemtoon dat misdaadvoorkoming en -bestryding, soos Operasie Lockdown in die Wes-Kaap en Gauteng, versterk moet word en ook ʼn lewenswyse word. “Dié operasie blyk positiewe resultate te lewer, met betrekking tot die duisende inhegtenisnemings vir ernstige en geweldsmisdaad, asook die beslaglegging op onwettige vuurwapens en dwelms.”

Cele het gesê misdaad moet deur die jaar bekamp word en nie net oor die feestyd nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

AndréF ·

Dis ‘n wonder dat Cele sy kantoor verlaat het. Nog nooit by ‘n plaas aanval gesien nie.

Smurf ·

Lewer kommentaar…Onmiddelik ook my eerste gedagte……………..hom nog nooit by n toneel van n plaasaanval gesien nie….laat mens dink.

Deon ·

Mnr Cele, sit biekie daad by woord… Ons hoor en lees alewig hoe almal misdaad sleg se maar ek sien oral al hoe meer en nuwe moord en doodslag

Dries ·

Mnr Cele gaan jy die rugbyklub in Pongola waar daar sommer koelbloedig op mense geskiet en met pangas gekap is, ook besoek? Daar was mos immers ook ‘n sterfgeval?

Michael ·

Waneer besoek hy die pongola rugby club?of is hy nie n polisie minister vir wit minderhede nie?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.