Polisieminister gaan besoek aflê na dubbele plaasmoord

Glen en Vida Rafferty (Foto: Facebook)

Die minister van polisie, Bheki Cele, gaan Woensdag die plaas in Normandien naby Newcastle in KwaZulu-Natal besoek waar Glen Rafferty (63) en sy vrou, Vida (60), Saterdagaand vermoor is.

Luidens ʼn verklaring uitgereik deur Cele se woordvoerder, Lirandzu Themba, gaan Cele om 11:00 die plaas besoek. Tydens sy besoek gaan hy met die gemeenskapspolisiëringsforum en boeregemeenskap vergader. Lede van die media word ook uitgenooi.

Maroela Media het vroeër berig die egpaar se liggame is vroeg Sondagoggend buite hul plaashuis in Normandien aangetref. Die egpaar is Saterdagaand koelbloedig doodgeskiet nadat hulle van Newcastle tuisgekom het. Een van hulle honde is ook tydens die aanval doodgeskiet.

Die aanvallers het ná die voorval in die egpaar se voertuig op die vlug geslaan. Die voertuig is later verlate gevind.

Niemand is nog in hegtenis geneem in verband met die moorde nie.

Die Rafferty-egpaar word beskryf as ’n boerepaar wat deur die plaaslike gemeenskap bewonder is vir hul bydrae tot die verbetering van die lewens van ander mense.

Die KwaZulu-Natalse premier, Sihle Zikalala, het die dubbele plaasmoord veroordeel en ʼn beroep op wetstoepassingsagentskappe gedoen om nie te rus totdat die skuldiges vasgetrek is nie.

“Plaasmoorde bly ’n ernstige bron van kommer in die provinsie. Die voortslepende moorde op boere is in stryd met die gees van ubuntu. Dit is ’n klap in die gesig van die boeregemeenskappe wat belangrike bydraes in die land lewer,” sê Zikalala.

Die premier doen ʼn beroep op almal om op te staan teen plaasaanvalle en -moorde. Hy het ook namens die provinsiale regering medelye aan die familie van die egpaar en die hele boerdery-gemeenskap betuig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Harry ·

Minister Cele. “Tokenism” gaan nie hierdie mense terugbring nie. Nog minder hulle geliefdes troos bied nie. Julle, deur julle ontkenning, is aandadig aan hierdie tragedie.

Persheks Adri ·

Groot hoed jy skitter al ewig in jou afwesigheid hoekom nou moeite doen? Gaan geen verskil maak nie. Die bloed is op julle hande!!!

Yvonne ·

Hy gaan besoek afle..om wat te doen…tensy hy die lewe kan terug bring…..our people voel vere…wat hy ookal gaan se beteken inderwaarheid niks

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.