Polisieminister moet opdok ná vrou se verkragting

Bheki Cele, minister van polisie (Foto: GCIS)

Deur Tania Broughton, GroundUp

Die minister van polisie, Bheki Cele, moet skadevergoeding aan ʼn verkragtingslagoffer betaal vir hul slordige polisiewerk nadat ʼn vrou 15 uur lank gyselaar gehou en herhaaldelik verkrag is.

Die Konstitusionele Hof het Dinsdag bevind dat die polisiebeamptes wat na die vrou gesoek het, nie hul hulpbronne doeltreffend gebruik het nie. Dit het daartoe gelei dat die slagoffer se beproewing ure lank uitgerek is.

Die saak is destyds deur die slagoffer, ʼn Johannesburgse sakevrou bekend as me. K, teen die polisie in die hooggeregshof aanhangig gemaak. Die voorval het in Desember 2010 plaasgevind tydens die slagoffer se besoek aan haar ma in Gqebera (Port Elizabeth).

Volgens hofstukke het me. K ʼn paar uur voor haar vlug huis toe, haar motor by Kings Beach parkeer en op die strand gaan stap.

ʼn Onbekende man het haar genader en haar met die dood gedreig indien sy nie saam met hom na die bosse gaan nie.

Sy is 15 uur lank gevange gehou en herhaaldelik verkrag. Gedurende hierdie tyd het haar familie haar as vermis aangemeld.

Die polisie het ʼn ondersoek van stapel gestuur en haar motor opgespoor. ʼn Polisiehelikopter het in die gebied waar sy vermis geraak het, gesoek, terwyl ʼn speurder met ʼn hond sowat 20 meter weg was. Hulle kon die slagoffer egter nie vind nie.

Die soektog is afgelas en die verkragtings het voortgeduur tot me. K om 06:00 die volgende dag self kon ontsnap.

Die slagoffer het die polisieminister vir R25 miljoen vir haar beproewing gedagvaar en aangevoer die gehalte van die soektog en gevolglike ondersoek, wat nooit tot ʼn inhegtenisneming gelei het nie, was benede die standaard wat die Grondwet stel.

Me. K het voorts aangevoer dat die polisie nie hawelose mense wat in die duine woon behoorlik ondervra het nie, en ook nie die volledige kringtelevisiebeeldmateriaal wat tot hul beskikking was, breedvoerig deurgekyk het nie. Sy het ook aangevoer dat die polisie eers jare later die bewyse wat ingewin is, vir DNS-toetse gestuur het.

Die hooggeregshof het in haar guns beslis en bevind dat die minister aanspreeklik is vir 40% van haar skadevergoedingseis.

Die minister het hom tot die appèlhof gewend en dié hof het die hooggeregshof se besluit omgekeer. Volgens die appèlhof het die polisie alle beskikbare hulpbronne gebruik en redelike stappe in hul soektog en in die daaropvolgende ondersoek gedoen.

Die saak is daarna na die Konstitusionele Hof.

Dié hof het met die hooggeregshof se aanvanklike beslissing saamgestem en bevind dat die betrokke polisiebeamptes versuim het om op die beskikbare leidrade te reageer.

“Die hooggeregshof se gevolgtrekking dat nie eers ʼn basiese soektog aanvanklik te voet gedoen is nie, word gehandhaaf,” het die hof bevind.

Die hof het ook bevind sou die beampte wat saam met ʼn polisiehond in die gebied was, die soektog na die duine – waar die slagoffer gevange gehou is – uitgebrei het en die helikopter opdrag gegee is om oor daardie gebied te vlieg, die beamptes me. K ʼn verdere vyf uur van trauma sou kon spaar.

Volgens die hof handel die saak nie oor die feit dat daar geen suksesvolle vervolging was nie, maar eerder oor die metodologie wat gebrekkig was.

“As daar nie van die polisie vereis word om spoedig en met die gepaste erns op te tree nie – soos hulle in hierdie geval nie gedoen het nie – dan is die verpligting op die polisie om die publiek te beskerm en hul veiligheid te verseker, betekenisloos.

“Dit is nie voldoende dat [die polisie] slegs die hulpbronne byderhand mobiliseer nie. Hulle moet daardie hulpbronne nougeset en doeltreffend ontplooi,” het die hof beslis.

“Om die polisie aanspreeklik te hou vir hul soektog en ondersoeke, wat nie in hierdie geval op standaard was nie, sal die doeltreffendheid en gehalte van hul werk, asook die vertroue van die publiek, verbeter.”

  • Hierdie berig is verkort vir publikasie op Maroela Media. GroundUp se oorspronklike berig is hier beskikbaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

31 Kommentare

Corne123 ·

El hoop die apelhof beslis hy moet 100% betaal en sommer binne 24uur

Martin ·

Hy betaal dit nie. Die belastingbetaler betaal dit. Ek, en jy.

Akhenatha ·

Wonderlik! Hoera vir die brawe vrou. Dis hoog tys sat die polisie vasgevat word.

gpsa ·

Me. K jy is ‘n heldin en ‘n voorbeeld vir ons almal. Een van die slegste groewe waarin baie van ons verval het is om maar net te aanvaar wat ook al gebeur. Dis een van die redes waarom ons land so wetteloos is. Jy het opgetree, baie dankie en geluk met die uitslae.

Misky ·

Sjoe, dis ‘n wonderlike uitspraak en hierdie skep ‘n nuwe presedent vir ons demokrasie. Mense kan nou links en regs dagvaar en ons polisie sal moet begin vinger uit die oor trek en hulle werk doen.

Keelvol ·

Die geld gaan haar nie geluk bring nie. Dis belaglik om die polisie vir haar ondervinding verantwoordelijk te hou. Die hof het nie alle feite oorweeg nie.

AH ·

Sjoe, praat jy verkragting en die polisie se treurige diens goed?? Het jy al die hofsake bygewoon om tot jou slotsom te kom?? Sou graag wou weet watter feite die hof nie oorweeg het nie. Deel dit met ons asb.

Misky ·

Soos ek die berig verstaan het, het dit vir my geklink asof dit hy in persoon is wat moet betaal. Ek hoop inelkgeval so.

Piet ·

Nee, nie so nie. Die bevel sou uitdruklik bepaal as hy direk daarvoor verantwoordelik is.

Piet ·

Jy is reg. GEEN polisiebeampte gaan dit aan sy eie sak voel nie.

JohanR ·

Die geld moet uit Hoed se sak kom, en nie uit die belastinbetalers se sak!

Eclectus ·

Hierdie berig is verkeerd. Die BELASTINGBETALER gaan die R25 miljoen betaal.

Swerwer ·

Mag hy betaal vir sy Kommunistiese handelswyse/optrede en kan die res van SA se burgers wat aan sy lippe hang wakker skrik

Pieter9 ·

Onthou dit is belasting-geld (baie bly vir haar) dus staan ons eintlik in vir die SAP se brouwerk; die betrokke polisiemanne en bevelvoerder behoort ontslaan te word.

Janine ·

Johan, wie sorg vir al die plaasmoorde se geliefdes???? Die anc???

Wielspore ·

Hierdie is ‘n proefsaak wat ten gunste van die publiek beslis is en die polisie sal hulle sokkies moet optrek as dit kom by dienslewering. Sou graag wou sien dat die beampte ook gedeeltelik in sy privaat hoedanigheid van die boete betaal.

domheks ·

Polisie minister??? Kom weer, gaan ou cele dit uit sy sak betaal? Of die voos belastingbetalers?
MM – vind asseblief uit en publiseer die WAARHEID!

Jr ·

Nee dis nie die mini star van polisie wat moet betaal nie. Dis die tax betaalende burger wat dit moet betaal. Dis hoekom hulle nie n dit omgee want hulle hoef dit nie te betaal, ons betaal hulle salaris en onbevoegheid

Pietertjie ·

Die minister moet niks opdok nie. Dis die belastingbetaler wat opdok.

Anton ·

As dié gebruik word as presedent, skuld die minister elke Suid-Afrikaner miljoene

AndrewL ·

Nou sit die hof jare na die tyd en neem ‘n leunstoel beslissing.

Watter ander bronne moet die polisie nog inspan? ‘n Helikopter sou beslis ook die duine kon waarneem. Ek sou graag wou weet hoe ver die polisie moet soek. Ervaring wys dat jy optree op grond van die inligting wat op daardie stadium beskikbaar is.

Moet die polisie nou in elke geval waar een van die duisende vermiste persone per jaar helikopters, honde, mense en wie weet nogal inspan? Het die polisie toegang gehad to die cctv? Dit is nie onder hul beheer nie en dit vat letterlik ure en ure se skandeer werk om leidrade op te spoor. Bygesê, as jy toegang daartoe kan verkry. Hul kan gerus self probeer om by enige stadsraad of SANRAL toegang tot beeldmateriaal te verkry. Dis om winde te blaas teen donderweer tydens ‘n tropiese storm.

Ek sê nie hul is heeltemal onskuldig nie, maar genade jy kan net soveel doen en niks meer nie. Hulpbronne is baie beperk.

Deesdae gooi POPI wetgewing nog meer landmyne in die pad.

Keelvol ·

Die hof uitspraak is n klug. Die vrou wou net geld hê. Niks regverdig n 25 miljoen eis nie. Dis belaglik.

AH ·

Sou graag wou weet hoe jy sou voel as dit jy, jou vrou, jou ma of jou dogter was wat ‘n slagoffer van die walglike misdaad was….

christo ·

Kom ons wees eerlik. Die land sal net nog meer en meer korrup word, indien die ANC nie uit die kussings gelig word nie. Ramaphosa is nie SA se Staatspresident nie. Hy is die ANC president en beskerm en sorg dat sy korrupte staatsamptenate en politici uit die tronk bly. Die ANC se kaders vermoor getuies en fluitjieblasers as die korrupte dade in die kollig kom.
Ek sal ook graag in CR se Suid-Afrika wil bly, want hy sien niks verkeerd nie, geensins enigeiets oor hoe die land se mense vermoor en verkrag word nie.
Al sy kommissies van ondersoek na staatskaping en die korrupsie met Covid-19 beskermende drag ens. is niks anders as windeiers waarvan daar geen vervolging sal plaasvind nie. Dit kos die SA belastingbetaler miljarde en geen vervolging vind plass nie.
Bheki Cele weet te veel van die geheime van die CR17 befondsing en daarom sal Ramaphosa hom nooit afdank nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.