Polisieminister verkla oor kontrak van miljoene rande vir vriendin

Nathi Nhleko by 'n vorige geleentheid. Foto: Werner Beukes/SAPA

Nathi Nhleko by ‘n vorige geleentheid. Foto: Werner Beukes/SAPA

Nathi Nhleko, minister van polisie, se departement het volgens berigte meer as R30 miljoen betaal vir ʼn veldtog wat sy vriendin se nieregeringsorganisasie vir die departement behartig het.

Die DA het aangedui dat hy Nhleko by die parlement se etiekkomitee sal verkla. Zakhele Mbhele, die DA se skaduminister van polisie, het gesê hulle sal die openbare beskermer ook versoek om die bewerings te ondersoek.

Sondagkoerante het berig Nhleko se vriendin, Nomcebo Mthembu, se maatskappy het die “We Are One Humanity”-veldtog teen xenofobie vir sy departement gereël. Daar is volgens berigte geen tenders vir die projek aangevra nie.

Volgens Mbhele is die DA lankal bewus van bewerings dat Nhleko sy posisie misbruik om Mthembu se maatskappy, Indoni, onbehoorlik te bevoordeel. Mbhele het gesê die DA het in Oktober ʼn parlementêre vraag aan Nhleko gerig om besonderhede te probeer kry oor die veldtog en finansiële transaksies tussen Nhleko se departement en Indoni. Volgens Mbhele het Nhleko opsetlik vaag geantwoord.

“In die afwesigheid van duidelike verantwoordbaarheid sal die verhouding tussen Nhleko se departement en Indoni steeds as verdag beskou word en sal dit geloofwaardigheid gee aan die voorstel dat die minister toelaat dat die slaapkamer sy raadsaal-besluite beïnvloed,” het Mbhele gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Jean ·

Al probleem wat ek hiermee het, is hulle word verkla maar daar is SELDE consequences. Hierdie mense maak baantjies vir boeties, alles vir kommissie op die kantlyn, en al kom al die skandes uit, die kontrak gaan voort en elkeen steek die geld (gewoonlike miljoene) in sy sak, hulle verloor ook selde hulle werk, word dalk net oorgeplaas na ‘n ander afdeling toe.

GES ·

Is die mense eenvoudig net korrup of verstaan hulle nie hoe werk tenders nie? Daar gaan nie ‘n dag verby nie dat een of ander regerings amptenaar hom skuldig maak aan bedrog nie. Dit is absoluut skokkend!!!

Elize ·

Nou nie juis skokkende nuus nie. Ons behoort al gewoond te wees daaraan. Volg net sy leier se voorbeeld. Bedrog, korrupsie ens is mos aan die orde van die dag

Chris ·

Hel, ek wens ek het so pel gehad. Ek het nog altyd gewonder wat beteken die storie, “friends with benefits”. Nou weet ek ook.

foxi ·

Waar het hierdie ministers geswot……..ek wil ook daar gaan swot…….want ek kon nêrens n universiteit kry waar jy n graad kan gaan swot vir KORRUPSIE nie! So n graad moet fantasties wees……jy doen GEEN werk nie…….die geld rol net in………wat n voorreg man!

Doris ·

Ek dink hulle moet ook sommer dadelik van hom ontslae raak.

Oom Kalahari ·

@foxi, moet heelhartig met jou stelling saamstem. Is daar nog enige Staats department wat nog werklik funksioneer sonder enige korrupte aktiwiteite? Hierdie is ‘n verdagte stelsel in omloop om die ekonomie en staatskas te kaap op elke vlak en diegene wat nog positief bydrae te laat kruppel en BBEE besighede te bevorder tot volle oorname.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.