Polisiemoorde daal skerp sedert ’94

Foto: SAPD, Facebook

Die Suid-Afrikaanse Instituut vir Rasseverhoudinge (SAIRV) het Woensdag gesê die getal moorde op polisiebeamptes het in die afgelope 20 jaar aansienlik afgeneem.

Kerwin Lebone, misdaadontleder by die SAIRV, het gesê aangesien die polisie se hoofrol voor 1994 beskou is as om die regering aan bewind te beskerm, was polisiebeamptes ʼn wesenlike teiken vir politieke aanvalle.

Volgens Lebone het ʼn opname getoon dat daar tussen 1994 en 2004 altesaam 1 970 polisiebeamptes doodgemaak is. Hierdie syfer het verminder tot 945 vir die tydperk van 2005 tot 2014, ʼn afname van 52%. Die getal polisiemoorde het vanaf 252 uit 100 000 in 1994 tot 51 uit 100 000 in 2014 verminder.

“Wanneer ons na die twee dekades kyk [1995-2004 en 2005-2014], is daar in die eerste dekade ná apartheid meer as dubbel soveel polisiebeamptes vermoor as in die tweede dekade,” het Lebone gesê.

Hy het bygevoeg dit is kommerwekkend dat ʼn aansienlike persentasiegroep (46%) van die polisiebeamptes vermoor is terwyl hulle op ʼn klagte reageer het. Volgens Lebone kan dit moontlik dui op ʼn onverskillige houding onder polisiebeamptes wanneer hulle potensiële misdaadtonele nader.

“Ondanks die daling in polisiemoorde, bly Suid-Afrika ʼn relatief gevaarlike land om polisiewerk te doen.” Hy het verwys na die getal polisiemoorde in ander lande wat ook hiervan rekord hou, soos die Verenigde Koninkryk (minder as vier moorde per jaar), Duitsland (ses per jaar) en Frankryk (vyf per jaar).

“Selfs in die VSA word daar slegs 50 moorde op polisiebeamptes per jaar aangemeld – ʼn baie lae getal in vergelyking met Suid-Afrika sʼn, veral as daar in ag geneem word dat die VSA se bevolking Suid-Afrika se bevolking verreweg oortref,” het Lebone gesê.

Die SAIRV vermoed redes vir die vermindering in polisiemoorde is die algehele daling in die moordgetal, privaat veiligheidsmaatskappye wat al meer die eerste reaksiebeamptes op tonele is en gemeenskappe wat toenemend self boosdoeners vastrek en hulle aan die polisie oorgee.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Robert ·

Daar word minder doodgeskiet omdat daar minder eerlikes oor is…

Oompie ·

Dis omdat die skelms nou die polisiemanne is, nie so lekker om jouself te vermoor nie.

Scalla ·

Terwyl julle besig is met statistieke, hoeveel moorde was daar toe die doodstraf nog in plek was?

Dries du Toit ·

Uit die man se stelling oor polisiemoord statistieke lui ek net een ding af.Apartheidspolisiemag het misdaad uiters doeltreffend beheer,nes n goeie mag se werk is. Vandag se polisie het geen beheer nie-nes elke ander nuwe SA instellng-en word deur kriminele gerun..Laaste 10jr se geskiedenis is feite

Lynette ·

Hulle gee syfers vandat hulle aan bewind is maar verwys na apartheidsjare wat voor 1994 was en se polisie was toe n teiken. Dis plein nonsens. Voor 94 was moordsyfers baie kleiner. Meeste moorde was ANC en IFP wat mekaar uitgemoor het.

zahn ·

Voeg asb by die statistiek:
1. Hoeveel selfmoordgevalle is aangeteken van beamptes, en
2. Hoeveel gesinsmoorde is deur polisiemanne gepleeg,
3. Hoeveel polisewapens is gesteel in dieselfde tydperk.

Punt 3 kan dalk verklarend wees tot jul statistiek.

Mossie ·

Wit apartheid rassisme afrikaans Christelike Godsdiens is die skuldiges waoor soek julle nog na skuldiges

Potlood ·

ja dis waar maar onthou net dat hulle ook die hoeveelheid polisie verminder het. As hulle stats teenoor hoeveelheid aan diens vergelyk, is ek seker sal die prentjie ander lyk. Dan ook, hoe effektief is hulle strategie? Dis nie asof hulle die publiek se moord en roof ook minder gemaak het nie… So woopy-doooo, daar is 1 polisie vir elke 200 000 mense (onthou ons tel nie die groot koppe nie, want hulle dien nie direk die publiek nie). Hulle bly lewend, maar ons gaan dood…

marous ·

Want hulle was nie bang om wet en orde toe te pas soos dit in enige land behoort te wees nie. Vandag moet hulle op die publiek en sekuriteits maatskappye staatmaak om misdaad namens hulle te beveg.

Marietjie ·

Ek lief hoe hulle almal polisie genoem word. Hulle trek net die klere aan verder dien meeste van hulle geen doel nie. Hulle word nie meer geskiet nie omdat hulle onder bome sit en kuier, in hulle diensvoertuie sit en slaap en taxi speel vir familie en vriende, selfs nou die ander dag gesien hoe `n beampte tuinvullis wegry met `n diensvoertuig. Daarom my liewe Kerwin Lebone haal die klappe van jou oë af. Polisemoorde het skerp gedaal maar moorde onder ons mense het skerp gestyg omdat polisiebeamptes deesdae met `n ou geldjie in die hand anderpad kyk of andersins sommer die meesterbrein agter die midade is. Ek persoonlik vrees die polise en dis die laaste wie ek sal bel as ek in die nood is dis verseker.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.