Polisiemoordenaar lank tronk toe

Argieffoto Foto: SAPD, Facebook

Argieffoto Foto: SAPD, Facebook

Cheswill Adendorf is Maandag in die Wes-Kaapse hooggeregshof gevonnis vir die moord op ʼn polisiebeampte in April 2014.

Regter Babalwa Mantame het Adendorf op verskeie aanklagte skuldig bevind en gevonnis. Hy is tot 12 maande tronkstraf gevonnis op elk van die 13 diefstalaanklagte teen hom. Hy is tot ʼn bykomende sewe jaar gevonnis vir die diefstal van ʼn voertuig, 10 jaar vir gewapende roof, ʼn bykomende agt jaar vir nog ʼn gewapende roof en 15 jaar vir ʼn gewapende roof wat met ʼn ander saak verband hou. Hy is lewenslange tronkstraf opgelê vir die moord.

Mantame het gelas dat die vonnisse gelyklopend uitgedien moet word, wat beteken Adendorf sal eers oor 25 jaar vir parool in aanmerking kom. Adendorf is in September skuldig bevind aan 18 van die 22 aanklagte teen hom, wat wissel van diefstal tot moord en roof.

Adendorff  was ten tyde van die voorval ʼn 28-jarige getroude man met twee kinders, toe hy en drie medepligtiges van die polisie probeer vlug het in ʼn gesteelde voertuig van Gordonsbaai na die Strand.

Die polisie het ʼn padblokkade in Broadwayweg gehou. ʼn Vroulike polisiebeampte het aan die verdagtes beduie hulle moet stop. Hulle het egter versuim om te stop en bo-oor haar gery. Die polisiebeampte is op die toneel dood verklaar.

Die verdagtes is naby die ongelukstoneel in hegtenis geneem. Een van die verdagtes is reeds skuldig bevind en tot 12 jaar tronkstraf gevonnis, terwyl die ander twee verdagtes in die Strand-landdroshof verskyn het.

Die regter het Adendorf tydens vonnisoplegging beveel om regop te sit en gesê ʼn baba is van sy moeder beroof. Die polisiebeampte het kort voor haar dood van kraamverlof af teruggekeer.

Adendorf, wat as ʼn paramedikus gewerk het, het geld nodig gehad om sy dwelmverslawing te onderhou. Volgens die regter was Adendorf se pogings om nugter te lewe dikwels van korte duur.

Volgens die proefbeampte se verslag beskou Adendorf homself as ʼn slagoffer, iemand wat gereeld die blaam verskuif en weier om verantwoordelikheid vir sy dade te aanvaar.  Mantame het gesê dit is “onverskoonbaar om ʼn polisiebeampte se lewe te neem”.

Adendorf was ook nie eerlik met die hof toe hy gesê het dit is sy eerste oortreding nie. Hy het twee vorige veroordelings, een vir die besit van gesteelde eiendom en die ander vir die besit van verbode middels.

Terwyl ʼn huilende Adendorf uit die hofsaal gelei is, het een van sy familielede aan hom gesê: “God het jou lief.”

Familielede het geweier om met African News Agency te praat. Een van hulle, wat nie sy naam wou bekendmaak nie, het bloot gesê: “Hy was ʼn dwelmverslaafde. Die regering het dwelmverslaafdes gefaal, omdat daar nie hulpbronne vir verslaafdes is nie.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Gallie ·

Baie dankie aan die onbekende ondersoekbeampte wat deur goeie werk sy saak deeglik ondersoek het en daardeur verseker het dat hierdie gepaste vonnis opgele kon word. jammer dat die ondersoekbeampte nie by naam genoem was nie want dit sou dien as aansporing vir ander.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.