Polisiemoordenaars kry swaar vonnis

Argieffoto: SAPD

Drie mans wat onder meer skuldig bevind is aan die moord op ʼn polisiebeampte van Secunda in  Mpumalanga is ʼn swaar vonnis opgelê.

Kapt. Dineo Lucy Sekgotodi, woordvoerder van die Valke, het Donderdag gesê die beskuldigdes, Sydney Mashaba (44), Frans Nathibela (45) en Khayelile Welcome Ngubane (38), is Woensdag elkeen tot lewenslange tronkstraf met ʼn bykomende 20 jaar in die Evander-streekhof gevonnis vir die moord op die polisiebeampte.

Die trio is ook skuldig bevind aan tien ander aanklagte waaronder ʼn voertuigkaping, die besit van ʼn ongelisensieerde vuurwapen en ammunisie, roof en die diefstal van ʼn voertuig.

“Konst. Phumlani Nxumalo (44) van die Secunda-polisiestasie was op 18 Februarie vanjaar van diens af toe hy vermoor is,” het Sekgotodi gesê. “Hy het sy voertuig langs die Kinross-pad in Afghanistan parkeer toe Mashaba, Nathibela en Ngubane hom oorweldig het.”

Die drie veroordeeldes het Nxumalo gedwing om uit sy voertuig te klim en toe hy probeer het om homself te verdedig, is hy met ʼn vuurwapen teen die kop geslaan, waarna hy op die grond geval het. Die drie het met sy voertuig weggejaag en dit by ʼn plaaslike kuierplek gelos.

Nxumalo het probeer opstaan en hulp ontbied, maar is ʼn paar meter vanwaar hy aangeval is aan sy beserings dood.

“Die drie het ʼn dag daarna ʼn vrou gekaap, waarna hulle haar in ʼn veld ingedwing het, haar klere uitgetrek het en haar daar gelos het voor hulle met haar motor weggejaag het.”

Hulle is daarna na Middelburg waar ʼn rooftog gepleeg is.

Die drie is op 20 Februarie in hegtenis geneem en met al die voorvalle verbind. Hulle is borgtog geweier en was in aanhouding totdat hulle vandeesweek gevonnis is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.