Polisiemoordenaars swaar gestraf

Argieffoto Foto: SAPD, Facebook

Argieffoto: SAPD

Lt.genl. Godfrey Lebeya, die nasionale hoof van die Valke, het Maandag die swaar vonnisse verwelkom van drie mans wat twee polisiebeamptes ontvoer en geskiet het.

Maroela Media het vroeër berig dié twee polisiebeamptes, sers. Vusimuzi Moyana en sers. Ntombikayise Jojisa, is in 2015 na die Namibia- informele nedersetting in KwaZulu-Natal om ʼn beskermingsbevel af te dwing toe hulle oorval is, hul vuurwapens en polisie-uniforms afgeneem en hulle agterin ʼn vangwa gedruk is.

Hulle is ongeveer vyf kilometer daarvandaan in die Ngcungcwini-gebied afgelaai waar die beskuldigdes die beamptes geskiet het. Moyana is op die toneel dood en Jojisa is kritiek beseer. Sy is met ʼn helikopter na ʼn hospitaal geneem waar sy herstel het.

ʼn Volskaalse soektog na die verdagtes is van stapel gestuur en die moordenaars is kort daarna in hegtenis geneem.

Sabelo Mkhize (28), Lindokuhle Mchunu (20), en Siboniso Khubisa (22) is Vrydag in die Durban-hooggeregshof gevonnis waar hulle tereg gestaan het op aanklagte van ontvoering, roof met verswarende omstandighede, moord, poging tot moord en die onwettige besit van ʼn vuurwapen en ammunisie.

Brig. Hangwani Mulauzdi, woordvoerder van die Valke, het gesê al drie beskuldigdes is lewenslange tronkstraf opgelê vir moord. Elkeen is ook 15 jaar tronkstraf opgelê vir roof, vyf jaar vir poging tot moord en vyf jaar vir ontvoering. Mchunu is ʼn verdere 15 jaar tronkstraf opgelê vir die onwettige besit van sy oupa se vuurwapen.

Lebeya het die ondersoekspan geloof vir hul goeie werk wat tot die swaar vonnisse gelei het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Snuffels ·

5 jaar vir poging tot moord en 15 jaar vir die besit van die vuurwapen??? Dit klop nie lekker nie…maar ons het tog soveel vertroue in die regstelsel

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.