‘Polisienalatigheid kan nasionale veiligheid bedreig’

vuurwapenDie burgerregte-organisasie AfriForum het vandag ʼn versoek aan die nasionale polisiekommissaris, Riah Phiyega, gerig om te vra vir alle vuurwapenregisters sedert 2009 se amnestietydperk om presies te bepaal hoeveel wapens sedert 2009 tot op datum vernietig is.

AfriForum het ook versoek dat dit openbaar gemaak word hoeveel wapens in die polisie se besit is wat nog vernietig moet word, plus hoeveel wapens tydens die amnestietydperk deur die polisie verloor is. Die kommissaris het tot Woensdag, 11 Junie om te reageer.

AfriForum se versoek volg ná die arrestasie van twee Oekraïniese burgers in Norwood, Johannesburg einde verlede maand. Daar is meer as 122 aanvalsgewere, talle handwapens, kommersiële ploftoestelle en ontstekers in hulle besit gevind.

“AfriForum glo dat swak wapenbeheer ‘n bedreiging vir nasionale veiligheid kan wees. Hierdie geval is openbaar gemaak, maar hoeveel is daar waarvan ons nie weet nie? Ons kan nie bekostig dat buitelanders hul misdade uit Suid-Afrika bedryf nie, nog minder dat polisielede aan hulle wapens verskaf,” het Ian Cameron, AfriForum se hoof van gemeenskapsveiligheid, gesê.

Cameron het verder gesê dat die opspraakwekkende saak van die Tsjeggiese misdaadbaas Radovan Krejcir aandui hoe diep misdaad in Suid-Afrika gewortel is. Cameron meen dat die vuurwapenskandaal van die Oekraïniese burgers met sogenaamde “vernietigde” wapens net weer aandui hoe wydverspreid korrupsie in die land is.

“Volgens navorsers by die Instituut vir Sekerheidstudies het georganiseerde misdaad in Suid-Afrika sedert die negentigerjare die hoogte ingeskiet, en nou het polisiebetrokkenheid daarby ook ʼn faktor geword. Ons wil hê hierdie saak moet vinnig en deeglik ondersoek word,” het Cameron afgesluit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.