Polisiereservis tydens patrolliediens doodgeskiet

Argieffoto (Foto: imgkid.com)

ʼn 42-jarige polisiereservis is Woensdagaand doodgeskiet toe hy op ʼn gewapende roof by ʼn supermark gereageer het.

Lt.kol. Lungelo Dlamini, woordvoerder van die polisie, het gesê konst. Nicholas Maluleke was saam met ʼn kollega besig om voetpatrollie naby ʼn taxistaanplek in Diepkloof, Soweto te doen, toe die voorval gebeur het. Volgens Dlamini het die twee mans omstreeks 20:00 inligting ontvang van ʼn gewapende roof wat by ʼn nabygeleë supermark aan die gang was.

“Hulle het op die noodroep gereageer en met hul aankoms by die supermark is verskeie skote op hulle afgevuur,” het Dlamini gesê. “Maluleke is in sy bolyf gewond. Hy is na die Chris Hani Baragwanath-hospitaal gehaas en is met sy aankoms by die hospitaal dood. Sy kollega was ongedeerd.”

Volgens Dlamini was tussen vyf en ses verdagtes by die supermarkrooftog betrokke. Hulle het in ʼn Toyota Quantum-voertuig en ʼn Corolla van die toneel gevlug. Die nommerplate van die voertuie is nie bekend nie. Niemand is nog in hegtenis geneem nie.

Lt.genl. Deliwe de Lange, provinsiale polisiekommissaris, het die voorval veroordeel en gesê die polisie sal alles in hul vermoë doen om die skuldiges vas te trek. Die polisie het ook ʼn beloning uitgereik vir enige iemand met inligting wat kan lei tot die inhegtenisneming van die verdagtes.

Maluleke se dood kom kort nadat ao. Sipho Boy Mthethwa verlede week in Vosloorus doodgeskiet is. Nog ʼn polisiespeurder is verlede week in Braamfischerville gewond terwyl hy op die spoor van ʼn verdagte was wat gesoek word vir ernstige en gewelddadige misdade.

Inligting oor die bogenoemde voorvalle kan by 08600 10111 aangemeld word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.