Polisiereservis vas ná werk-slenter

Argieffoto

ʼn Johannesburgse polisiereservis is in hegtenis geneem nadat sy na bewering verskeie mense geswendel het om vir haar geld oor te betaal met die valse belofte van ʼn werk.

Kapt. Bernard Matimulane, woordvoerder van die polisie, het gesê die 47-jarige polisiereservis van Olifantsfontein is deur speurders van Ivory Park, waar sy ook voorheen as reservis werksaam was, vasgetrek.

“Sy het na bewering vir haar slagoffers poste wat nie bestaan nie by drie Gautengse Metropolisie-departemente beloof in ruil vir R7 000 elk. Omdat sy bekend was aan hulle en dikwels in polisie-uniform gesien is waar sy ‘polisiewerk’ doen, het die mense vir haar truuks geval,” het Matimulane gesê.

Volgens Matimulane het die slagoffers begin om sake aanhangig te maak toe hulle uitvind dat die beloofde betrekkings nie materialiseer nie. Die eerste slagoffer is in Maart vanjaar geteiken.

Die polisie het enigiemand wat ʼn slagoffer van ʼn soortgelyke slenter was versoek om na vore te kom en sake aanhangig te maak.

Brig. David Mbongeni, stasiebevelvoerder van Ivory Park, het lede van die publiek gewaarsku om nie betrokke te raak by transaksies vir betrekkings nie. “Werk is nie te koop nie en enigiemand wat betrokke is by dié soort ding pleeg misdaad.”

Hy het verder sy teleurstelling uitgespreek dat mense steeds vir dié slenters val al is daar ʼn “nie te koop”- stempel op die aansoekvorms aangebring.

Mbongeni het gesê die Ivory Park-polisie sal die kwessie ondersoek en enige addisionele persoon in hegtenis neem as daar bewyse aan die lig kom wat aandui dat daar ander mense by die saak betrokke was.

Die verdagte sal vandag in die Tembisa-landdroshof verskyn op aanklagte van korrupsie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Marina ·

Kla daardie mense wat so gretig betaal het vir die poste saam met die reservis aan. Hulle is net so skuldig aan ‘n oortreding!

Moeg ·

Ja nee wat kyk, as die kop nie wil hoor nie dan moet die sak dit maar voel! Hoeveel keer nog word mense so gevang, en angstig vir werk is nie ‘n rede nie!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.