Polisiesake vandeesweek ter tafel gelê in parlement

Foto: SAPD, Facebook

Foto: SAPD, Facebook

Die Valke en polisie sal vandeesweek die parlement se polisieportefeuljekomitee toespreek oor onlangse hoëprofiel-misdaadsake, asook gewelddadige betogings en moorde wat vanjaar se munisipale verkiesings voorafgeloop het.

Francois Beukman, die komitee se voorsitter, het Maandag die Valke geprys vir onlangse inhegtenisnemings, waaronder dié van terreurverdagtes in Gauteng, verskeie mense wat verbind word aan renosterstropery en onwettige vuurwapensmokkelaars.

“Die spoedige inhegtenisneming van die verdagtes wat glo betrokke was in die inbraak by die Simonstad-vlootbasis is ʼn voorbeeld van goeie polisiewerk wat ʼn goeie voorbeeld stel vir ander polisie-eenhede.”

Beukman het gesê dit is belangrik vir die komitee om te verseker dat die Valke die nodige hulpbronne en opgeleide personeel tot hul beskikking het om georganiseerde misdaad te bekamp.

Die komitee sal Dinsdag die vordering bespreek in die vestiging van ʼn aparte begroting vir die Valke, die status van die aanstelling van poste asook opleiding in die eenheid.

Woensdag sal die komitee die polisiebestuur ondervra oor hul hantering van die gewelddadige betogings in Pretoria en Vuwani in Limpopo voor die verkiesing, asook die hantering van die moorde op raadslidkandidate in KwaZulu-Natal. Die komitee soek onder meer bygewerkte inligting oor die vordering van die polisie se ondersoeke in dié verband.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

KarooKlong ·

Hoop die sake waarby hooggeplaasde Polisie offisiere betrokke is word ook aangeraak.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.