Polisiesersant onder dié vas vir Brits-ontvoering

Zahraa Mohammed (17) en Bataviya Mohammed (19) is ongedeerd gevind nadat hulle voor ‘n skool op Brits ontvoer is. (Foto: The Independent Co/Facebook)

ʼn Polisiesersant verbonde aan die Letlabile-speurtak is onder die ses mense wat reeds in verband met die ontvoering van ʼn niggie en neef van Noordwes aangekeer is.

Zahraa Mohammed (17) en Bataviya Mohammed (19) was op 6 Maart van Brits na die Hartbeespoortdam onderweg toe hul voertuig tot stilstand gedwing en hulle glo ontvoer is.

Die twee is Maandagaand in ʼn huis by Klipgat, naby Winterveldt noord van Pretoria, gevind. Hulle was ongedeerd, maar moeg en getraumatiseerd.

Brig. Sabata Mokgwabone, polisiewoordvoerder in Noordwes, sê ʼn multidissiplinêre taakspan wat die Mohammeds se ontvoering ondersoek het, het Dinsdag nog twee mense, onder wie die polisiesersant, in hegtenis geneem.

Die ondersoekspan het ook beslag gelê op ʼn voertuig wat glo in die uitvoering van die misdaad gebruik is.

“Die getal verdagtes wat in hegtenis geneem is, staan steeds op ses. Dít nadat twee van die aanvanklike verdagtes wat Maandag aangekeer is, ná deeglike onderhoude vrygelaat is en nie met die misdaad verbind kan word nie,” sê hy.

Die ses verdagtes sal na verwagting Donderdag in die Brits-landdroshof verskyn.

Lt.genl. Sello Kwena, provinsiale polisiehoof, het die inhegtenisnemings – ook dié van die polisiebeampte ­– verwelkom en gesê dit is ʼn aanduiding dat niemand verhewe bo die reg is nie. Hy sê ook geen steen sal onaangeroer bly om te verseker dat misdadigers boet nie.

Kwena het ook gemaan dat diegene wat die polisie se naam in oneer bring, nie geduld gaan word nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Casper ·

Hoe moet die publiek weet wie om te vertrou in die polisiediens.

ES ·

Hoe kan ons die polisie vertrou as hulle betrokke is by ontvoerings en ander misdade??

Gaitsigubib ·

Anargie is nou hier. Faksies met hul kriminele base is in beheer. Bid vir krag, want in die tyd wat voorle sal mens moets terk wees, maar mens kan alles tebowe kom.

Lettie ·

Ja met God se genade sal ons ook hiérdie berg biddend uitklim. Amen

Shakespeare ·

Jy kan maar met ‘n geruste hart 70% vd SAP lede toesluit wat verseker krimineel is.

domheks ·

Viva cele & kie. Julle stel uitmuntende voorbeeld. Kan nie die huidige SAPD vertrou nie! Dit sal baie verg om weer vertroue op te bou.

Bolandse Nooi ·

Ek reken – betaal SAPD lede BEHOORLIK en hulle sal nie in die versoeking kom om so bietjie “onderhands” te “deal” om ‘n ordentlike leefstyl te kan handhaaf nie. Meer as dit: doen weer SAPD-rekrutering soos van ouds met poligraaf- en psigometriese toetsing op gereelde grondslag en as deel van WERKLIKE personeel-evaluasies … en ek dink ons sal met minder korrupte polisie lede op hande sit.

Michael ·

Elke polisie beampte het geweet wat hy gaan verdien in die polisie en elkeen het vrywillig aangesluit so straf die kriminele in uniform. Ek dink hulle moet die maksimum straf ontvang juis omrede hulle die wet moet toepas.

Di ·

Soos dinge vir my lyk is die meerderheid in die Polisiemag kriminele! My vraag is hoe hierdie skelms poste gekry het in die mag? Seker geen sekerheidsklarings op die spul gedoen soos dit hoort nie. Maar in selfde asem is hulle Minister self nie ‘n engeltjie nie, DIT spreek boekdele

Leeubekkie ·

Ek onthou as dogtertjie is ons geleer as iemand met jou lol en daar is ‘n polisieman naby, gaan na hom toe. Nou hardloop jy vir húlle ook weg, loop ons oral hand aan hand met ons kindertjies, oë soekend soos ‘n verkleurmannetjie, alle kante toe, en versigtig, en hou “knuckle dusters” in ons handsakke, net vir ingeval.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.