Polisiestasies skuld miljoene vir water, elektrisiteit

(Argieffoto: SA Polisie)

Polisiestasies in die Wes-Kaap se nutsrekeninge is altesame R1,7 miljoen agterstallig, terwyl polisiestasies landwyd R24,4 miljoen vir water en elektrisiteit skuld.

Reagen Allen, die DA se woordvoerder oor gemeenskapsveiligheid in die Wes-Kaap, sê die bedrae is in antwoord op ʼn parlementêre vraag bekend gemaak.

“Die departement van openbare werke en infrastruktuur betaal munisipale dienste namens kliëntdepartemente soos die polisie en ʼn mens sou verwag dat die nasionale departement, onder leiding van min. Patricia de Lille, die kwessie met die nasionale polisie onder leiding van Bheki Cele sou opneem.

“Hulle is immers kabinetskollegas,” sê Allen.

Allen sê die operasionele doeltreffendheid van die betrokke polisiestasies moet onverwyld vasgestel word, omdat die situasie ʼn verdere negatiewe uitwerking kan hê op stasies wat reeds swak presteer. Allen gaan nou aan die LUR vir gemeenskapsveiligheid in die Wes-Kaap, Albert Fritz, skryf oor ʼn verslag oor die vlak van operasionele geldelike bestendigheid en diensleweringshulpbronne by elke polisiestasie.

“Onlangs moes die Kuilsrivier-polisiestasie se eenheid teen gesinsgeweld, kinderbeskerming en seksuele misdrywe gesluit word weens die opskort van sanitasiedienste omdat daar nie vir munisipale dienste betaal is nie,” sê Allen.

Hy sê dit is belangrik dat dienslewering steeds volgehou moet word – veral by polisiestasies wat die publiek moet dien en ʼn veilige, wetsgehoorsame samelewing moet verseker.

Allen sê die DA wil ook antwoorde hê oor die 1 200 polisievoertuie in die provinsie wat tans buite werking is en die bedreiging wat dit inhou vir dienslewering in die vorm van sigbare polisiëring.

“Die manier waarop hulpbronne in die Wes-Kaap op nasionale vlak bestuur word, is uiters kommerwekkend omdat die provinsie steeds een van dié is wat die ergste onder misdaad gebuk gaan.”

Allen sê as deel van sy oorsigrol gaan die DA vasstel hoekom die betalings nie gedoen word nie, hoe dit reggestel gaan word en watter ander probleme met dienslewering bestaan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Nie Verbaas ·

Ek dink n groot hoeveelheid mense besef nie regtig hoe hopeloos en onbevoeg die ANC werklik is nie maar hulle dink werklik dat hulle die kat met die dik stert is maar eindelik net nog n nar in die ANC sirkus is.

Persheks Adri ·

Nee wat niks gaan verander met groot hoed in beheer nie pffft. Hy’s tot bitter min in staat

Aikie ·

Wat se growwe nalatigheid gaan ons nog moet beleef. Ek het prepaid en indien my erfbelasting nie voor ‘n sekere tyd betaal is nie, land die laaste aanmaning in my posbus en is my rekening met R150 gedebiteer. Jy kan maar kla, maar as landsburger het jy geen verweer. Jy SAL betaal.
Ek wonder, indien al die staatsinstansies, regerings instansies en agterstallige munisipaliteite hulle rekenings getrou begin betaal of dit enigsins nodig is om Eskom se tariewe te laat styg.

Rooikoos ·

Dis seker maar nog een van die ANC se maniere om die Wes Kaap “onregeerbaar” te maak. Pocket seker die geld wat bedoel was vir die polisie.

Jakes ·

Tenidde van al hierdie chaos in SA sal mense in SA nog steeds vir die ANC stem. Maak nie saak hoe korrup en onbevoeg hulle is nie. Wat n n skreiende skande.

akkedismis ·

WESKAAP moet WEGBREEK van die ANC regering en n onafhanklike LAND word. Ons het ALLE FASILITEITE om dit SUKSESVOL te doen !

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.