Polisiesuksesse tydens misdaadbekamping

Argieffoto

Argieffoto

Die polisie in Gauteng het beslag gelê op 17 onwettige vuurwapens, insluitend pistole en AK47-aanvalsgewere met meer as 100 patrone.

Die polisie het ook beslag gelê op ses gesteelde voertuie en 18 verdagtes in hegtenis geneem tydens misdaadbekampingsoperasies oor die naweek.

“Die verdagtes sal aangekla word van die besit van ongelisensieerde vuurwapens, die besit van gesteelde eiendom, vragmotorkaping, poging tot moord en moord, wanneer hulle in verskeie landdroshowe in Gauteng verskyn,” het lt.kol. Lungelo Dlamini, woordvoerder van die polisie, Sondag gesê.

Die polisie doen ook ʼn beroep op lede van die gemeenskap om na vore te kom met enige inligting wat hulle het om die aantal onwettige vuurwapens te verminder, wat hoofsaaklik gebruik is in ernstige en gewelddadige misdade, insluitend huisrooftogte, kapings, moord en sakerooftogte. “Enige inligting wat kan lei tot die suksesvolle vervolging van misdadigers of nog onwettige vuurwapens, kan beloon word,” het hy gesê.

Die vuurwapens is in verskeie gebiede gevind, waaronder Alberton, Benoni, Diepsloot, Ennerdale, Ivory Park, Germiston, Jeppe, Johannesburg-sentraal, Kliprivier, Mamelodi en Thembisa.

Vier van die vuurwapens, drie AK47’s en ʼn pistool, is gevind tydens ʼn skietery tussen die polisie en misdadigers wat ʼn vragmotor in Midrand gekaap het wat elektroniese toerusting vervoer.

Twee gesteelde voertuie, wat tydens die kaping gebruik is, is ook gevind.

Drie van die verdagtes is na bewering deel van ʼn sindikaat wat vragmotors kaap en met gesteelde eiendom handel dryf.

In nog ʼn geval is twee verdagtes in hegtenis geneem ná ʼn kaping waar die bestuurder van die motor vroeg Sondagoggend doodgeskiet is. Die voorval het op die hoek van Liddle- en Terracestraat in Betrams plaasgevind. Die polisie het dadelik reageer en die oortreders agternagesit. Die gekaapte motor, ʼn donkerrooi Toyota, was in ʼn ongeluk betrokke en die polisie het die verdagtes in hegtenis geneem. Die polisie het beslag gelê op ʼn vuurwapen wat glo in 1991 in Pinetown gesteel is. ʼn Passasier, wat saam met die oorledene in die gekaapte motor was, is beseer en ontvang behandeling in ʼn plaaslike hospitaal.

Die ander voertuie en vuurwapens is tydens roetine-misdaadbekampingsoperasies gevind, het Dlamini gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Wern ·

Petrolverlagings en polisiesuksesse so voor die verkiesing…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.