Polisietrok-ontsnapping: 16 weer vas

Foto: SAPD/Facebook

Foto: SAPD/Facebook

Sestien gevangenes wat Vrydag ontsnap het terwyl hulle van die Ga-Rankuwa-landdroshof af vervoer is, is weer in hegtenis geneem.

“Sestien is weer in hegtenis geneem en die ander 12 word nog gesoek,” het kapt. Doniah Mothutsane, woordvoerder van die polisie, gesê.

Die vragmotor het 28 gevangenes van die Ga-Rankuwa-landdroshof na die New Lock-gevangenis vervoer. Die vragmotor het op Lucas Mangope-rylaan naby Medunsa gery toe dit in ʼn hinderlaag gelei is deur ʼn onbekende aantal mense.

“Die verdagtes het op die vragmotor losgebrand voor hulle die deur oopgedwing het. Van die gevangenes het van die vragmotor af in die verdagtes se voertuig ingespring terwyl die ander te voet gevlug het,” het Mothutsane gesê.

Die pad naby Medunsa was ʼn miernes van bedrywighede met meer as 15 polisievoertuie wat voor die ingang van die universiteit parkeer was. Die polisievragmotor het in die middel van die pad bly staan terwyl lede van die forensiese-eenheid die toneel gefynkam het. Polisiebeamptes het intussen te perd na die verdagtes gesoek in ʼn nabygeleë veld terwyl ʼn helikopter oor die gebied gevlieg het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.