Polisievakbond wil Valke-hoof se aanstelling laat terugtrek

Lt.genl. Berning Ntlemeza (Foto: chronicle.co.cw)

Lt.genl. Berning Ntlemeza (Foto: chronicle.co.cw)

Die Suid-Afrikaanse Polisievakbond (Sapu) het Maandag die polisieminister Nathi Nhleko versoek om “leierskap en verantwoordelikheid te wys en sy trots te sluk” en die aanstelling van lt.genl. Berning Mthandazo Ntlemeza, as die hoof van die Valke, te herroep.

Sapu het in ʼn verklaring gesê die minister het versuim om die regte prosedure te volg toe die hoof van die direktoraat van prioriteitsmisdaadondersoeke (Valke), aangestel is. Hy het nie die Nasionale Vergadering binne die voorgeskrewe tydperk in kennis gestel nie.

“Die minister word versoek om dié omstrede aanstelling terug te trek,” het Sapu gesê. “Ons het reeds van die dag wat hy in ʼn waarnemende kapasiteit aangestel is, ons teenkanting bekend gemaak. Hy was nooit die beste kandidaat om ʼn elite eenheid soos die Valke te lei nie.”

Die polisievakbond het gesê Ntlemeza se droewige rekord is goed opgeteken. “Ons teenkanting teen sy aanstelling is nie ʼn persoonlike vendetta nie. Ons is slegs besorg oor dienslewering, aangesien middelmatigheid die polisie die respek sal kos wat hulle verdien. Die Valke se rekord is reeds nie wat van hulle verwag word nie,” lui die verklaring deur Oscar Skommere, algemene sekretaris van Sapu.

“ʼn Volwasse leier is iemand wat sy foute sien en aanspreeklikheid daarvoor aanvaar. Dit is ʼn gulde geleentheid vir die minister om sy aanvanklike tekortkoming reg te stel nadat hy só swak bevelvoerder aangestel het. Ntlemeza is ʼn grap. Hy dwing nie enige respek af nie, nie eers onder die Valke nie, wat nog te sê misdadigers. Die feit dat Ntlemeza se aanstelling onreëlmatig is, kan deur die wet gedaag word en die Valke kan nie bekostig om ʼn swak bevelvoerder te hê nie.”

Nhleko en Ntlemeza was nie dadelik beskikbaar vir kommentaar nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

twakkie ·

Het hy dit self besluit om die man aantestel of was daar’n nommer betrokke wat die opdrag gegee het om sy eoe bas te red.

Oosie ·

Die probleem met die meeste top-aanstellings (en laer af) is dat die kandidaat nie die nodige opleiding en ervaring (blootstelling) gehad het nie. Sulke aanstellings verontreg eintlik die kandidaat want hy tree buite sy ervaringsveld op en sleep sy naam deur die modder. In plaas van positiewe erkenning word sulke mense vir die res van hulle lewe negatief gebrandmerk. Die slegste van alles is dat baie van hulle dit nie wil besef nie. (Slegs hier en daar weier van hulle om verneder te word en bedank liewer soos ‘n paar van die SAUK raadslede).

Alida ·

Dit was seker no 1 se opdrag!! Onthou arme tannie Riah wat niks ondervinding gehad het nie. ALLES te danke aan n beeswagter met st 3.

John ·

Wie kies hierdie mense in die eerste plek? Orals is vreemde karakters in top posteaangestel en daar is vreemde ooms wat net in en uit loop tydens onderhoude…

Jiohan Piek ·

Dis hoogtyd dat iemand met invloed n daadwerklike poging aanwend om hierdie skandelike aanstelling omver te gooi. Hierdie man is deur n Regter beskuldig dat hy n leuenaar is en ook geen integriteit het nie. Die DA het tot dusver nog niks uitgerig om die regering so ver te kry om van hom ontslae te raak nie. Hoekom vat Afriforum nie die saak hof toe nie ?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.