Polisievrou agter tralies ná kollega se skietdood

Argieffoto

’n Polisiebeampte (31) verbonde aan die polisie in Gqeberha se teen-bende-eenheid is in hegtenis geneem in verband met die moord op ’n ander polisiebeampte.

Dié polisiebeampte is vroeër vandeesmaand tydens patrollie in ’n polisievoertuig doodgeskiet toe polisiebeamptes uit ’n polisievoertuig geklim het. Dit is nog nie duidelik of die skoot per ongeluk afgegaan het nie.

Kapt. Yolisa Mgolodela, woordvoerder van die Valke, sê ses lede van die polisie se teen-bende-eenheid het op 17 Junie patrollie in die omgewing van KwaDwesi gery toe hulle na bewering drie verdagte mans opgemerk het. Die polisiebeamptes het by die mans stilgehou en drie van die polisiebeamptes het uit hul voertuig geklim om die mans te deursoek.

Die drie polisiebeamptes het glo ’n geweerskoot gehoor toe hulle uit die voertuig geklim het. Hulle het geen onraad vermoed nie en het voortgegaan om die mans te deursoek.

Hulle kon egter niks verdags op die mans vind nie en is terug na hul voertuig.

Die bestuurder van die voertuig het toe opgemerk dat een van die polisiebeamptes op die agterste sitplek nie goed lyk nie. Die beampte het vir sy kollegas gesê sy maag is seer. Dit is toe dat die polisiebeamptes besef dat die betrokke beampte in die maag geskiet is.

Die polisiebeampte is dadelik na ’n hospitaal gehaas. Hy is egter met sy aankoms by die hospitaal dood verklaar.

Die betrokke polisiebeampte wat na bewering die skoot afgevuur het, sal na verwagting Donderdag in die hof verskyn op aanklag van moord.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

22 Kommentare

Waarnemer ·

Regtig!!!En sy gaan nou lewenslank kry….opgeskort vir 5 jaar op voorwaarde sy skiet nie weer haar kollega dood nie.

Philip ·

Maggies maar ons het darem ‘n voortreflike polisiediens…sy maag is seer…ons almal se pense wil werk as ‘n mens lees van die belaglike onbevoegte klomp skepsels onder die hanswors met die hoed se beheer. Treurige klomp fools.

Jessica ·

Puik gestel. Waarom hy die simpel hoed moet dra om soos “ iets” te lyk gaan my verstand tebowe.

Marius ·

In ons dae 2.4km onder 10 min saam jou vriende of jy gaan weer as ek kyk na die nuwe mag lede seker 24 uur stap ons het 18 ure n dag opleiding en gewerk vandag max 2 ure julle skuld die land is waar hy is

Jandup ·

Wat was die polisie lid se vlak van bevoegdheid om ‘n vuurwapen te hanteer?

Pierre ·

Wel as mens na die toestand van die SAP Kollege in Pta kyk is ek nie verbaas oor die wapen bevoegtheid van lede nie.

SjN ·

Seker gedink dit is die take aways wat hom maagpyn besorg het.

marius ·

Weet nie of dit per ongeluk is nie maar kla aan vir moord ?

Jixy ·

Hulle het die geweerskoot gehoor (wat naby aan hulle moes gewees het), maar het nie onraad vermoed nie. Ek wil ook so ontspanne wees dat n geweerskoot my nie pla nie.

Kokkies ·

As n geweerskoot langs jou afgaan, gaan jy dadelik kyk, maar die ses (6) beamptes het geen onraad vermoed nie. Bog man. Ek wil dit net weer noem….SES beamptes waarvan een gewond is, vermoed geen onraad.

Jessica ·

Hoe vermoed mens nie onraad as n skoot afgaan nie? Onkunde en onbevoedheid van sommige polisiebeamptes met betrekking tot hul vuurwapens maak my benoud.

Jack ·

Die kollegas hoor n geweerskoot en dink niks daarvan nie. Vreemd!

Gert ·

Hoe weet jy nie as jou eie vuurwapen afgaan nie. Die pistool skop terug in jou holster. Nou hoe nou? Dit het seker self uit geklim laat waai en weer terug in die holster voor iemand agterkom hy is uit

Marthina79 ·

Dis presies waaraan ek gedink het. Sekerlik gaan jy die recoil voel en die slag gaan hard wees want dis van jou heup af!?

Zoey ·

Jong ja, ek is baie bly ek werk nie meer daar buite nie agv gestremheid. My pistool was defektief en het gedurig gestoor. ‘n Vriend se pistool se veiligsheids meganisme was foutief en hy het homself raakgeskiet toe hy die pistool uit sy holster haal. Ons het meestal ons pistole “one up”, maw met ‘n rondte in die kamer, geloop as ons op gevaarlike plekke gewerk het. Die lede moes egter gaan kyk het waarom ‘n skoot afgegaan het. En die lid het nie vir hulp geroep nie. Lede word nie meer opgelei volgens die standaard wat daar was toe ons opgelei is nie.

Stoffeltjie ·

Seker ook ‘n instrukteur gehad wat omkoopgeld gevra het vir ‘n slaagsyfer. O nee, ek het vergeet – die SAPD kry nie eers meer wapenopleiding nie, want daar is nie meer ammunisie vir opleiding nie.

LANA is ELANè ·

Net weer ñ bewys die SAPD se vuurwapens word roekeloos uitgedeel aan sg polisielede wat beslis nie bevoeg is om vuurwapens te dra of te hanteer nie.
Maar dan teiken die regering mense wat bevoeg is en beslis deur die regte kanale hul vuurwapenlisensies bekom het, net om hulle te ontwapen.
Ek wonder rerig hoeveel van hierdie sg polisielede werklik deur die regte prosesse hul vuurwapenlisensie ontvang en of dit net aan hulle uitgereik word soos hul uniforms?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.