Die liggaam van ʼn polisiesersant van Mpumalanga is Woensdag deur haar kollegas in ʼn plas bloed aangetref nadat sy koelbloedig doodgeskiet is.
Sedertdien krap die polisie kop oor die moord op sers. Florah Jiana (37). Jiana was verbonde aan die KwaMhlanga-voertuigmisdaadondersoekeenheid.
Volgens brig. Leonard Hlathi, woordvoerder van die polisie, het Jiana se kollegas Woensdag teen 07:30 ʼn anonieme oproep ontvang van iemand wat hulle ingelig het dat Jiana in haar huis in Vlaklaagte naby Kwaggafontein vermoor is. Die polisiebeamptes het hulle na die huis gehaas waar hulle Jiana se liggaam met ʼn koeëlwond aangetref het.
Hlathi het gesê Jiana se dienspistool en haar blou Kia Rio-voertuig word vermis. Die voertuig se nommerplaat is HST 805 MP.
“Die polisie is op soek na Happy Ndinisa wat die polisie moontlik in hierdie ondersoek kan bystaan,” het Hlathi gesê. Hy het gesê enigiemand met inligting oor waar Ndinisa hom bevind of wat moontlik Jiana se voertuig opmerk, word versoek om lt.kol. Gladys Mahlangu by 082 372 2131 te bel.