Polisievrou gesoek ná geheime verhouding met bendelid

Alicia Beeming. Foto: Facebook via ANA.

ʼn Lasbrief vir die inhegtenisneming van ʼn voormalige lid van die Port Elizabeth-polisie se bendetaakspan wat stilgebly het oor die doen en late van ʼn berugte bendelid, ook haar geheime minnaar, is deur die Port Elizabeth-landdroshof uitgereik.

Dít volg ná sy nie Dinsdag vir voorverhoorverrigtinge by die hof opgedaag het nie. Haar regsverteenwoordiger het aangevoer sy kliënt, konst. Alicia Beeming, kon nie die verrigtinge bywoon nie omdat sy deur ʼn by gesteek is.

Beeming is in Augustus skuldig bevind op ʼn klag van dwarsboming van die gereg nadat sy skuld erken het op dié aanklag.

Dit het verder aan die lig gekom dat sy verskeie verskonings gehad het om nie haar korrektiewe beampte te ontmoet nie, onder meer dat sy deur ʼn spinnekop gebyt is. Die hof het gevolglik ʼn lasbrief vir haar inhegtenisneming uitgereik.

Ná haar departementele verhoor verlede jaar in November is Beeming terug na die Motherwell-polisiestasie gestuur waar sy as lid van die polisie se eenheid teen gesinsgeweld, kindermishandeling en seksuele misdrywe werksaam was. Sy moes ʼn boete van R2 400 betaal.

Beeming is in kennis gestel dat sy afgedank sou word indien sy binne die volgende ses maande skuldig bevind word aan soortgelyke oortredings.

Volgens die staat het Beeming haar verhouding met Hans Jordaan, ʼn bendelid met ʼn hoë rang, geheim gehou terwyl sy ʼn aktiewe spesialisbeampte was wat bendeaktiwiteite in Port Elizabeth se noordelike omgewings ondersoek het.

Beeming het glo vergaderings wat deur kapt. Mike Grobler, die bevelvoerder van die eenheid, gehou is, bygewoon waartydens bendes, bendeaktiwiteite en verdagtes na wie die polisie soek, geïdentifiseer en bespreek is. Beeming het toegang gehad tot geklassifiseerde dokumente en dossiere.

Volgens die staat het Beeming geweet waar Jordaan hom bevind, maar dit nie bekend gemaak nie selfs al was haar eenheid op soek na hom in verband met ʼn saak van poging tot moord wat verband hou met ʼn bendeskietery in 2014.

Beeming het ook ʼn romantiese verhouding met Jordaan gehad terwyl sy geweet het hy is ʼn verdagte wat deur die eenheid gesoek word. Sy het nie vir Grobler [die bevelvoerder] in kennis gestel van hul verhouding nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Leahim ·

Ek verstaan nie as jy n skurk wil wees hoekom by die polisie gaan werk.

Cor ·

Dit is die veiligste en maklikste opsie want dan kan jy jou berywighede voortsit en altyd op hoogte wees hoe vorder die ondersoeke wat jou moontlik raak en sodoende bly jy hulle een voor.

Genieve ·

Ai so n pragtige vrou haar bemoei met n bendelid sjoe en nou haar werk kwyt. Hoop nie geld het hier n rol gespeel nie…jy kan ook niemand meer vertrou nie.

Ruby ·

Duidelik was sy nie net deur bye en spinnekoppe gesteek en gebyt nie.

Alete Muller ·

Ek kan hierdie pragtige vrou nie oordeel nie. Ek weet van ‘n sielkundige wat werksaam was by ‘n gevangenis wat jare gelede ‘n verhouding met ‘n psigopaat gevangene gehad het. Sy het hom gehelp ontsnap.
Hierdie bendelid tien teen een ‘n manipulerende psigopaat.

Michelle ·

Nee sy moet uit, sy is onbetroubaar, dis ‘n skande, jy kan ‘n perd tot by die water bring maar hom nie maak water drink nie. Sy het ‘n eed gegee om misdaad te bekamp sy het self gekies waar haar lojaliteit le.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.