Polisievrou in Butterworth aangeval

Argieffoto

Argieffoto

ʼn Vroulike polisiebeampte is in Butterworth aangeval en haar dienspistool is gesteel, het die polisie in die Oos-Kaap Sondag gesê.

“Die 34-jarige konstabel het Saterdag winkel toe gegaan om middagete te koop,” het kapt. Jackson Manatha, woordvoerder van die polisie, gesê. “Sy was aan diens en was in volle uniform. Sy het ook haar koeëlvaste baadjie aangehad.”

Toe sy terugkeer na haar privaat motor en wou inklim, het iemand haar van agter oorval en haar in haar lyf en linkerhand gesteek. “Die verdagte het haar dienspistool gegryp en in die rigting van ʼn groentewinkel gehardloop.”

Manatha het gesê straatverkopers het op hulle fluitjies geblaas en lede van die Butterworth-misdaadvoorkomingseenheid, wat op patrollie was, se aandag getrek. “Die polisie het toe vinnig reageer en die verdagte agternagesit. Hy is naby die groentewinkel in hegtenis geneem. Die polisie het die beampte se dienspistool en die mes wat tydens die aanval gebruik is, in die man se besit gevind.”

Die konstabel is intussen na die Butterworth-hospitaal gehaas waar sy mediese behandeling ontvang het. Sy is reeds ontslaan.

“Die 30-jarige verdagte staan tereg op aanklag van gewapende roof. Hy sal Dinsdag in die Butterworth-landdroshof verskyn,” het Manatha bygevoeg.

Bron: Naledi Shange, News24

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

CHRISTA ·

Kyk nou net! As dit nie vir die straatverkopers was nie sou die skurk seker weggekom het. Dit wys jou net: straatverkopers kan ook ‘n goeie doel dien. Dalk moet ons die straatverkopers in ander dele van ons land ook van fluitjies voorsien en so misdadigers uit ons land “blaas”!!!

Griki ·

Stem saam, Christa. Hulle loop ook maar onder die skurke deur. Ons moet almal fluitjies kry. Hoop nie hy kry borgtog nie.

Japie ·

Ons kort meer fluitjie blasers in ander sektore van die samelewing.

Jaco Prinsloo ·

My vraag: Waarom slegs gewapende roof en nie ook poging tot moord nie?

Stefan ·

Jaco, stem saam. As jy ‘n mes in iemand anders se lyf druk moet jy sit vir poging tot moord…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.