Polisievrou in hof oor geheime verhouding met bendelid

Alicia Beeming. Foto: Facebook via ANA.

ʼn Voormalige lid van die Port Elizabeth-polisie se bendetaakspan wat stilgebly het oor die doen en late van ʼn berugte bendelid, tegelyk ook haar geheime minnaar, het Woensdag uiteindelik in die stad se landdroshof verskyn.

Dít volg nadat ʼn lasbrief vir die inhegtenisneming van konst. Alicia Beeming Dinsdag uitgereik is omdat sy nie vir haar voorverhoorverrigtinge by die hof opgedaag het nie. Sy moes die dag in die hof wees nadat sy in Augustus skuld beken het op ʼn aanklag van dwarsboming van die gereg. Haar regsverteenwoordiger het egter gesê sy kon nie die verrigtinge bywoon nie omdat sy deur ʼn by gesteek is.

Beeming het Woensdag mank geloop, krukke gebruik en beweer dat sy geval en haarself beseer het.

Staatsaanklaer Jason Thysse het aan die hof gesê Beeming het nie verduidelik hoekom sy nie haar afsprake met haar proefbeampte nagekom het nie. In September het sy aan die beampte gesê sy kan nie haar afspraak nakom nie as gevolg van familieverpligtinge.

In Oktober het sy ook nie vir ʼn afspraak opgedaag nie en het beweer sy is deur ʼn spinnekop gebyt en was in die hospitaal. “Sy het daarna nie meer oproepe van die beampte beantwoord nie en ook nie Dinsdag by die hof opgedaag nie,” het Thysse gesê.

Landdros Onke Myataza het gesê hy is teleurgesteld dat Beeming versuim het om haar afsprake na te kom. Hy het gesê haar bewering dat sy geval en na ʼn dokter moes gaan, is heeltemal anders as wat haar prokureur aangevoer het oor die bysteek.

“Ek moes voor die verhoor begin het ʼn bevel maak vir jou om met jou prokureur te beraadslaag aangesien jy dit nie gedoen het nie en die verhoor moes begin,” het Thysse gesê.

Myataza het Beeming beveel om onmiddellik met die proefbeampte te vergader. “As jy weer enige van die borgtogvoorwaardes verontagsaam, sal ek die lasbrief goedkeur en jy sal in aanhouding bly tot die saak afgehandel is,” het hy gewaarsku en die saak tot 14 Desember uitgestel. Sy sal dan na verwagting haar lot hoor.

Ná Beeming se departementele verhoor aangaande haar skuldbevinding verlede jaar in November is sy terug na die Motherwell-polisiestasie gestuur waar sy as lid van die polisie se eenheid teen gesinsgeweld, kindermishandeling en seksuele misdrywe werksaam was. Sy moes ʼn boete van R2 400 betaal.

Volgens die staat het Beeming haar verhouding met Hans Jordaan, ʼn bendelid met ʼn hoë rang, geheim gehou terwyl sy ʼn aktiewe spesialisbeampte was wat bendeaktiwiteite in Port Elizabeth se noordelike omgewings ondersoek het.

Beeming het glo vergaderings wat deur kapt. Mike Grobler, die bevelvoerder van die eenheid, gehou is, bygewoon waartydens bendes, bendeaktiwiteite en verdagtes na wie die polisie soek, geïdentifiseer en bespreek is. Beeming het toegang gehad tot geklassifiseerde dokumente en dossiere.

Volgens die staat het Beeming geweet waar Jordaan hom bevind, maar dit nie bekend gemaak nie selfs al was haar eenheid op soek na hom in verband met ʼn saak van poging tot moord wat verband hou met ʼn bendeskietery in 2014.

Beeming het ook ʼn romantiese verhouding met Jordaan gehad terwyl sy geweet het hy is ʼn verdagte wat deur die eenheid gesoek word. Sy het nie vir Grobler in kennis gestel van hul verhouding nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Theresa B ·

En so gooi nog ‘n mooi vrou wat ‘n goeie lewe voor haar gehad het – alles net so weg.

Geheue ·

Laat my dink aan die bankrower wat die polisie help soek het na homself. Natuurlik die polisieman André Stander van die Standerbende. Alreeds 33 jaar gelede.
Terug na die berig: Inderdaad, die liefde IS blind maar ek dink eerder sy is ge-/misbruik. Ek het hoop vir haar . . .

bgj van der westhuizen ·

as ek reg lees is sy nog werk saam in die sapd wel sy was saam mend bendes lid deur mekaar en gee haar n boete enh ulle verplaas haar net dit sal ook net gebeu rin die staats diens onder die anc egering

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.