Polisievrou katrol ʼn eerste vir SA in

Kabous Louw. Foto: SAPD.

Lt.kol. Kabous Louw. Foto: SAPD.

ʼn Polisievrou het onlangs die mees gesogte titel in kushengel ingekatrol.

Lt.kol. Kabous Louw, hoof van die eenheid vir openbare orde in die Paarl, het onlangs die eerste Suid-Afrikaner geword wat as Wêreldkushengelaarkampioen aangewys is.

Louw het in 2011 mededingend begin kushengel en het byna onmiddellik die WP se provinsiale vrouespan gehaal. Sy het in 2012 aan haar eerste nasionale kushengelkompetisie deelgeneem.

Sedertdien is Louw elke jaar vir dié provinsiale span gekies. Sy werk al 26 jaar in die Suid-Afrikaanse Polisiediens.

Louw het Suid-Afrika in 2014 in Jeffreysbaai in die Gus Memorial-toernooi teen Namibië verteenwoordig en ʼn algemene sesde plek behaal, ʼn eerste vir vrouehengelaars. In 2015 is sy gekies vir die senior Suid-Afrikaanse Protea Vrouehengelspan om in Portugal te gaan deelneem.

Vanjaar se wêreldkampioenskap is in November in Wexford, Ierland, gehou en dis hier waar Louw met die gesogte titel van Wêreldkampioenkushengelaar weggestap het.

“Ek het nooit gedink ek sal die eerste mens ooit in Suid-Afrika wees wat ʼn wêreldkampioen is in hierdie hengeldissipline nie. Hul hengelmetodes is soveel anders as wat ons gebruik en dit was ongelooflik om hulle in hul eie waters te klop. Ongelukkig word hengel nie as ʼn toeskouersport beskou nie, selfs al is daar meer geregistreerde hengelaars in die wêreld as sokkerspelers. Daarom sal niemand verstaan hoe groot hierdie oorwinning vir Suid-Afrika is nie. Dit is dieselfde as Wayne van Nierkerk, Chad le Clos en Caster Semenya en die Rugbywêreldbeker in 1995 se oorwinnings,” het Louw gesê.

Volgens Louw neem sy in haar eie tyd deel en moet sy self daarvoor betaal. “Om jou drome te bewaarheid is moontlik as jy jou ingesteldheid regkry en net glo jy kan.”

Louw neem binnekort teen Namibië deel in ʼn internasionale toernooi wat in Hentiesbaai gehou word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Trix Willemse ·

Ek sien dat ‘n groot verskaffer van hengelgerei hierdie staatmaker gekontak het vir borgskap. Bly dat ek ‘n bydrae kon maak deur rond te snuffel totdat ek haar selfoonnommer gekry het. Hengel is ‘n duur sport en as jy ‘n hupstootjie kan kry maak dit dinge makliker. Sterkte aan haar met wat voorlê.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.