’n Polisievrou van Limpopo en twee van haar vriende is Saterdagaand koelbloedig doodgeskiet. Die vermeende skieter was aan haar bekend en het hom intussen aan die polisie oorgegee.
Brig. Motlafela Mojapelo, woordvoerder van die polisie, sê konst. Mahlatse Precious Machubeni (32) het omstreeks 23:40 saam met ’n vriend van haar langs sy wit Ford Ranger buite haar huis in die Ga-Kuranta-nedersetting gestaan toe die verdagte hulle genader het.
Die verdagte (34) het verskeie skote afgevuur en Machubeni en die vriend is albei op die toneel dood.
Die verdagte het ná die skietery in die Ford Ranger gespring en op die vlug geslaan. Hy het egter na nog ’n vriend van Machubeni gery en dié ook geskiet waar hy in ’n BMW saam met ’n vrou gesit het. Die verdagte het glo vermoed dat dié vriend op Machubeni verlief is.
Die vriend is doodgeskiet, terwyl die vrou was saam met hom in die motor was, gewond is. Sy is na ’n hospitaal vir mediese behandeling geneem.
Mojapelo sê die verdagte het daarvandaan na die Giyani-polisiestasie gery waar hy hom aan die polisie oorgegee het in verband met die twee skietvoorvalle.
Die verdagte sal na verwagting Dinsdag in die Bolobedu-landdroshof verskyn op drie aanklagte van moord, een van poging tot moord en motorkaping.
- Machubeni was ten tyde van haar dood aan die speureenheid van die Mokwakwaila-polisiestasie verbonde.
O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.
3 Kommentare
Snaaks hoe sekeres glo dat moord die oplossing is sonder om nagevolge te oorweeg. Of is dit net gebrek aan intellek?
Soos ons die oujaar gegroet het so begroet ons die nuwe jaar,met moorde wat ons nasionale sport geword het i p v rugby.Wel ek kan net vir die polisielede sê duck and dive in die nuwe jaar want solank hoedman aan die stuur is gaan niks verbeter nie
Sommer netso? Is dit wat lewe werd is in hierdie tye?