Polisievrou lewenslank tronk toe vir moord

(Argieffoto: Unsplash)

ʼn Voormalige polisiebeampte en twee van haar drie medebeskuldigdes is tot lewenslange tronkstraf gevonnis vir die moord op ʼn 28-jarige man in Januarie 2019.

Die vierde beskuldigde het gedurende die verhoor gevlug en ʼn lasbrief is vir sy inhegtenisneming uitgereik.

Die voormalige beampte, Mathapelo Victoria Sechoko (51), is saam met Rosina Tlhalatsi (63) en William Tshilo (72) daaraan skuldig bevind dat hulle Thabang Keikabile (28) destyds met stokke en sambokke doodgeslaan het.

Hulle het Keikabile op 6 Januarie oorval en na Sechoko se huis geneem – waar Keikabile na bewering die vorige dag goedere gesteel het.

Daar het hulle hom aangerand tot hy dood is.

Henry Mamothame, woordvoerder vir die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG), sê Sechoko se voertuig is gebruik om Keikabile aan te keer voordat hy vermoor is.

In die hof is aangevoer dat Sechoko aan die aanranding deelgeneem het terwyl sy eerder die beweerde diefstal by die polisie kon aanmeld.

“In plaas daarvan het sy lede van die gemeenskap gelei om onwettig op te tree en eie reg te gebruik.”

Adv. Nangamso Goloda, vir die staat, het die hof gevra om nie van die minimum voorgeskrewe vonnis af te wyk nie. Hy het verder aangevoer dat Sechoko, as ʼn lid van die polisie, ʼn plig gehad het om die wet te gehoorsaam en mense te beskerm.

Landdros Stephen du Toit het saamgestem en gesê die minimum voorgeskrewe vonniswetgewing is juis ingestel om ernstige misdaad doeltreffend te hanteer.

Hy het ook gesê dat die ouderdom van die medebeskuldigdes dit nie regverdig dat daar van die minimum voorgeskrewe vonnis afgewyk word nie.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Waarnemer ·

Ons almal weet hjlle gaan nie eers n jaar agter tralies deurbring nie.

piet ·

Dit moet seker die maksimum voorgeskrewe vonnis wees waarvan nie afgewyk moet word nie? Paragraaf 9.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.