Polisievrou ná nagskof doodgeskiet

Argieffoto Foto: SAPD, Facebook

Argieffoto Foto: SAPD, Facebook

ʼn Polisiebeampte van Port Elizabeth is Donderdagoggend by haar huis doodgeskiet nadat sy nagskof gewerk het.

Kol. Sibongile Soci, Oos-Kaapse polisiewoordvoerder, het gesê die beampte, konst. Nomathamsanqa Ivy Tsitsi (36), was by die Zwide-polisiestasie gevestig en was tien jaar lank in die polisie.

“Sy het omstreeks 06:00 van diens af gekom en skaars by haar huis in Motherwell opgedaag toe sy deur ʼn onbekende man genader is. Hy het op haar losgebrand terwyl sy in haar private motor, ʼn swart Citroën, gesit het. Sy is in die bolyf getref en is op die toneel dood,” het Soci gesê.

Die motief vir haar moord is nog nie bekend nie en die Motherwell-polisie ondersoek ʼn saak van moord. Niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie.

Lt.genl. Celiwe Binta, provinsiale polisiekommissaris, het namens die polisie meegevoel aan Tsitsi se familie, vriende en kollegas betuig.

“Ons veroordeel die moord ten sterkste en sal onverpoosd werk om te verseker dat diegene wat nie twee keer dink om ʼn polisiebeampte te vermoor nie, vervolg word. Die polisie sal die nodige ondersteuning aan konst. Tsitsi se familie verskaf gedurende hierdie moeilike tyd,” het Binta gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Sumari ·

Maak ‘n helse ophef as polisie mans ‘n misdadiger iets aandoen, maar daar word nie ‘n ophef gemaak oor polisie wat vermoor word nie. Lekker né, die vervlakste misdadiger het mos meer regte as ons as mense. Die hele land is besig om agteruit te gaan. Die polisie word uitgemoor en so ook al die boere en mense wat nie boere is nie. Nou ja Zuma kry ‘n vliegtuig en worry nie. Laat hy val waar hy wil.

Charlene ·

Dis omdat die polisie hulle nie self mag beskerm nie!!! Ek hoop hulle kry die wetter. Sumari, ek stem 101% saam jou, self jou laaste stelling. As die polisie `n misdager wat eers op hulle geskiet het uitwis is dit 2weke lank hoof nuus maar as `n polisie beampte koelbloedig vermoor word is dit nie so erg nie
Die land van ons is siek

SNEL ·

Dis vreeslik, sy doen net haar werk en was seker nou doodgemaak oor die uniform wat sy dra. Geweld en misdaad is buite beheer in ons land. Baie sterkte aan haar familie.

Winston ·

Net die doodstraf gaan hierdie tipe koelbloedige moorde laat daal. Kriminele het altyd te veel “redes” en n dooie mens kan nie getuig nie. Laat hom klippe kap vir 20 jaar of bring die tou; elektriese stoel of euthanase en bêre hom. Vir ewig

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.