Polisievrou se ‘huurmoord’ 16 jaar later onopgelos

Anna-Marie Potgieter (Foto: Verskaf)

Anna-Marie Potgieter (39) sou die oggend van haar moord 16 jaar gelede, haar eindeksamen in kindersielkunde skryf. Sy het ook uitgesien na haar bevordering van die rang van kaptein tot superintendent, wat na verwagting oor drie weke sou plaasvind. Dit was ’n droom wat Potgieter van kindsbeen af gehad het: Om die beste polisievrou te wees wat sy moontlik kan wees.

“En sy was die beste wat daar was. Sy was die stem vir kinders, maar soms ten koste van haarself. Ons sal nooit weet of haar werk op die ou einde haar lewe gekos het nie,” het haar suster, Lorraine Esterhuizen (51), vandeesweek aan Maroela Media gesê.

Potgieter is op 17 Januarie 2006 op ʼn kleinhoewe naby Vereeniging in Gauteng doodgeskiet. Sy was vir meer as tien jaar by die polisie se kinderbeskermingseenheid in Benoni betrokke.

Regter Margaret Victor het Potgieter se moord in 2008 in die hooggeregshof in Vereeniging as ’n “koue, berekende kontrakmoord” beskryf. Die vermeende meesterbrein agter die moord is egter steeds op vrye voet nadat alle klagtes teen hom laat vaar is weens onvoldoende bewyse.

“Om te weet dat hy nog daarbuite is, vreet aan ons soos ʼn kanker.”

Liggaam in ’n vlak graf

Potgieter het die noodlottige oggend gaan fietsry en daarna gaan bad in haar kêrel, Pieter Don Brandt, se huis op ’n kleinhoewe naby Vereeniging. Dit was net voordat sy haar laaste eksamenvraestel sou aflê. Brandt was toe reeds werk toe.

Terwyl sy in die bad gelê het, het die tuinier, John Dhlomo, die badkamer binnegaan en haar drie keer met haar dienspistool geskiet. Sy is een keer in die kop, rug en skouer geskiet.

“Haar liggaam is daarna in ’n vlak graf, ongeveer 20 meter van Brandt se slaapkamervenster af, begrawe,” sê Esterhuizen.

Brandt het die aand by die huis gekom en die bloed gesien, maar volgens Esterhuizen het hy gedink die werkers het baklei en dat dit hulle bloed is.

“Hy het vir my gesê dat hy my suster ’n paar keer probeer bel het, maar nie in die hande kon kry nie.”

Brandt het die volgende dag omstreeks 13:00 Potgieter se kollegas gekontak en gesê hy vermoed Potgieter is vermis. ’n Soektog na die polisievrou het gevolg.

“Een van Anna-Marie se kollegas wat op die kleinhoewe na haar gesoek het, het haar hand onder ’n sinkplaat sien uitsteek. Dit is toe dat hulle haar naakte liggaam in die vlak graf ontdek.”

Volgens die nadoodse ondersoek is die tyd van Potgieter se dood as 17:00 aangemeld. Sy is reeds 09:15 geskiet.

“Dit beteken dat sy in die vlak graf haar laaste asem uitgeblaas het.”

Volgens die ondersoek het die skoot deur haar rug haar rugstring getref en haar moontlik verlam gelaat.

Die hele sak patats

Dhlomo (18) is die volgende dag in hegtenis geneem nadat sy pa die polisie van sy betrokkenheid by Potgieter se moord in kennis gestel het. Hy het blykbaar die hele storie aan sy pa vertel.

Sy medepligtige, Justice Arthur Anthony, is ook in hegtenis geneem, maar ná twee en ’n half jaar van alle klagtes vrygespreek.

Dhlomo en Anthony is albei Lesotho-burgers.

Dhlomo is in 2008 tot lewenslange tronkstraf vir Potgieter se moord gevonnis.

Regter Victor het in haar uitspraak gesê Dhlomo het Potgieter vir R5 000 doodgeskiet in ’n “koue, berekende kontrakmoord wat Brandt orkestreer het”. Brandt is nooit vir die moord in hegtenis geneem of aangekla nie.

Regter Victor het verder gesê Dhlomo, wat erken het dat hy van Potgieter gehou het omdat sy vir hom ’n T-hemp gegee het, het haar vermoor vir wat destyds gelykstaande was aan die koste van ’n stoof en ’n yskas.

Sy het aanbeveel dat hy nie vir parool oorweeg mag word nie.

“Dit gee ons ietwat berusting om te weet dat Anna-Marie se moordenaar nooit weer sy voete buite die tronk sal sit nie.”

Die ondersoek teen Brandt is ’n ruk daarna laat vaar weens onvoldoende bewyse. Dhlomo is ook as ’n “ongeloofwaardige getuie” afgemaak omdat hy sy weergawe in die hof verander het.

Vrae, onrustigheid

Die wete dat die sogenaamde “meesterbrein” agter Potgieter se moord vry rondloop, laat Potgieter se familie onrustig.

“Daar is nog soveel onbeantwoorde vrae oor Anna-Marie se dood. Ek sal meer vrede in my hart hê as die meesterbrein aan my persoonlik erken hy het my sussie laat doodmaak en ook verduidelik waarom hy dit gedoen het.”

Volgens Esterhuizen was Brandt en Potgieter ’n jaar saam voordat hulle die verhouding beëindig het. ’n Maand voor Potgieter se dood, het Brandt glo weer met haar kontak gemaak en die verhouding weer ’n kans gegee, vertel Esterhuizen.

“Hy het egter in die hof gesê hulle was nie regtig ’n paartjie nie.”

Esterhuizen erken daar was nie enige rooi vlae wat daarop gedui het dat daar moeilikheid in Brandt en Potgieter se verhouding is nie.

“Ek het die Saterdag voor haar dood in die restaurant oorkant hom [Brandt] gesit en gedink ek is so bly dat my sussie iemand gevind het vir wie sy lief is. Ek is vandag so spyt dat ek dit gedink het en nie die tekens raakgesien het nie.”

Verlange

Potgieter sou op 12 Oktober 56 jaar oud geword het en volgens Esterhuizen slaan die hartseer en verlange op sulke spesiale dae ekstra hard.

“Daar is ook dae wanneer jy weer dink aan die sinneloosheid van haar dood en dan van voor af kwaad raak. Sy was hopeloos te jonk.”

Volgens Esterhuizen het die familie se lewe verander die dag van Potgieter se dood. Sy het kort ná haar suster se dood ’n senuwee-ineenstorting gekry.

“Als het sedertdien uitmekaar geval. Ek was so gefokus daarop om te baklei vir geregtigheid dat ek myself in die proses verloor het.”

Volgens die familie het die polisie hulle aanvanklik nie van Potgieter se moord in kennis gestel nie.

“Die dag ná hulle Anna-Marie se liggaam gevind het (19 Januarie), het my ma haar werk gebel. Hulle het toe vir haar gesê my suster werk nie meer daar nie, want sy is dood. Dit was ’n groot skok.”

Die dogters se ouers, Lorraine (78) en Theo Potgieter (69), is ook intussen oorlede.

Potgieter word ook oorleef deur haar suster Jessie le Roux (57).

Esterhuizen het intussen vir Dhlomo vergewe en sê sy besef sy moet aangaan met haar lewe. “Anders vergiftig jy jouself.”

Hy het tien jaar gelede vir Esterhuizen gevra om hom in die tronk te besoek en het persoonlik vir haar om verskoning gevra vir Potgieter se moord.

Vir Esterhuizen was Potgieter “ʼn held” en “’n kwaai engel wat haar man kon staan”.

“Ek het opgekyk na haar. Sy was tough, maar ook ’n omgeemens. Sy het geveg vir die kinders van die land.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Yvonne ·

Die eintlike REGTER in die saak sal nog SY uitspraak lewer daarvan is ek oortuig….boosheid van die mens is verskriklik

Niklaas ·

Die wiel draai , hoor mens gereeld , maar soms is dit natuurlik en menslik om ongeduldig te wees en om lank te wag. Mens moet egter berus. Wraak kom ons nie toe nie.

Lorraine ·

Ons probeer, glo my, dit is nie aldag maklik, veral op spesiale geleenthede soos haar verjaardag, ek wil glad nie wraak neem of he, net geregtigheid

Christiaan ·

Hierdie storie is vir verskeie redes aangrypend én tragies – vir Anna-Marie, maar veral ook vir haar familie. Die regter het bevind dat dit was ‘n huurmoord. Die persoon wat dit gereël het, is nou vasgevang in sy eie selfopgelegde, lewenslange straf. Elke dag van sy lewe.
Ek hoop die waarheid sal hom eendag vrymaak.

Lorraine ·

Baie dankie vir die puik artikel Anja en Maroela, as familie is dit ‘n riem onder die hart dat die media Anna-Marie onthou en haar naam eer, Groete, Lorraine

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.