Polisievrou skiet man, baba

Argieffoto

ʼn Polisievrou (28) het na bewering Saterdag haar vyf maande oue babadogtertjie en dié se pa doodgeskiet voordat sy haar eie lewe geneem het.

Brig. Leonard Hlathi, woordvoerder van die polisie, sê die polisie en nooddienste is van die voorval in kennis gestel en na die toneel in eMbalenhle, digby Secunda in Mpumalanga, ontbied. Daar het hulle die konstabel op die toneel dood verklaar.

Die dogtertjie en pa is na ʼn nabygeleë kliniek geneem vir verdere mediese behandeling.

“Die pa het met sy aankoms by die kliniek aan sy skietwond(e) beswyk. Die dogtertjie is gestabiliseer en na ʼn hospitaal geneem, maar sy is ook later dood,” vertel Hlathi.

“Die polisie het ʼn geregtelike doodsondersoek van stapel gestuur en ondersoek twee sake van moord.”

Lt.genl. Mondli Zuma, die provinsiale polisiekommissaris in Mpumalanga, het ʼn beroep op polisielede in die provinsie gedoen om hulp te soek wanneer hulle gesinsprobleme ervaar.

“Moet nie geestesgesondheidskwessies soos depressie self probeer oplos nie. Soek eerder hulp,” het Zuma gesê. “Tragiese voorvalle soos hierdie een kan voorkom word indien die betrokke partye professionele hulp kry.”

Zuma herinner lede daaraan dat die polisie ʼn gratis werknemerbystandsprogram het waar lede hulp vir geestesgesondheidsprobleme kan kry.

“Lede moet van hierdie diens gebruik maak om die druk op hulle te verlig.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

2 Kommentare

jongste oudste gewildste
Miskruier

Laat die wapens by die polisiestasie.

Genis

Keur die regte mense, lei hulle behoorlik op, teken wapens in en uit… eindelik so maklik…