Polisievrou vermoor: ‘Moordenaar’ dood gevind

misdaadtoneel

Argieffoto

Nadat sers. Florah Jiana (37) Woensdag dood in haar huis in Vlaklaagte, Mpumalanga, aangetref is, is haar vermeende moordenaar se liggaam ook gevind.

Brig. Leonard Hlathi, woordvoerder van die polisie, het Vrydag gesê ʼn man se liggaam is in Jiana se motor, wat sedert haar moord vermis was, naby die Verena-Dennilton-pad gevind. Die man se liggaam het ʼn koeëlwond gehad en die vermoede is dat hy selfmoord gepleeg het.

Maroela Media het vroeër berig Jiana se kollegas het Woensdag om 07:30 ʼn anonieme oproep ontvang van iemand wat hulle ingelig het dat Jiana in haar huis naby Kwaggafontein vermoor is.

Die polisiebeamptes het hulle na die huis gehaas waar hulle Jiana se liggaam met ʼn koeëlwond in ʼn plas bloed aangetref het. Jiana se dienspistool en haar blou Kia Rio-voertuig was vermis.

Die voertuig, met ʼn man se liggaam binne, is later deur beeswagters in ʼn beboste gebied opgemerk en die polisie is ontbied.

Volgens Hlathi het dieselfde vuurwapen die dood van Jiana en die man veroorsaak. “Die polisie is tans besig om die oorsprong van hierdie vuurwapen na te spoor,” het hy gesê.

Jiana se dienspistool is ook intussen opgespoor.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Fred ·

Indien die polisielede verplig word om hul vuurwapens in te handig, nadat hul skof voltooi is, sal daar minder vuurwapens verdwyn. Die meeste lede het nie kluise in hul huise nie en bêre dan hul dienspistole maar op die yskas, as daar een is.
Ek wonder waar het hul Jiana se dienspistool gevind.

niel ·

Fred. Polisiebeamptes word slegs toegelaat om hul dienspistole huis-toe te vat indien hul ‘n vasgemonteerde kluis het in hul woning. Hierdie kluis word ook deur die polisie verskaf en gereelde inspeksies word gedoen om te kyk of byde kluis en vuurwapen nog in die lid se besit is

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.