Politici in Nederland, België stel parlementêre vrae oor US-taalbeleid

Universiteit Stellenbosch (Foto: US)

Die Nederlandse parlementslid en ondervoorsitter van die Tweede Kamer der Staten-Generaal, Martin Bosma, het vroeër vandeesweek vrae in die parlement gestel oor die afskaffing van Afrikaans by die Universiteit Stellenbosch (US).

Bosma, saam met ʼn Vlaamse parlementslid in België, Sam van Rooy, het sewe vrae aan min. Ingrid van Engelshoven, die Nederlandse minister van onderwys, kultuur en wetenskap, en Ben Weyts, die Vlaamse minister van onderwys, dierewelsyn en sport, gestel.

Bosma en Van Rooy se vrae volg op verskeie berigte in Suid-Afrika oor die toenemende uitfasering van Afrikaans by die US en diskriminasie teen Afrikaanssprekende studente by dié universiteit. Die Nederlandse Taalunie is in 1980 opgerig om die Nederlandse taal in Nederland, Vlaandere en die res van die wêreld te ondersteun. Die Taalunie handhaaf steeds ʼn goeie verhouding met Afrikaanse instellings in Suid-Afrika weens die feit dat Afrikaans en Nederlands familietale is. Bosma en Van Rooy beywer hulle reeds die afgelope paar jaar vir nouer bande tussen Nederlandstalige en Afrikaanse organisasies en vir die bevordering van Afrikaans as deel van die Nederlandse taalfamilie.

In Nederland en Vlaandere vorm die ministers van onderwys die komitee van ministers van die Nederlandse Taalunie. Die twee ministers het dus ʼn plig om taalverwante aangeleenthede as deel van hul portefeuljes te hanteer. Volgens Bosma het hy besluit om die inisiatief te neem nadat hy die artikel “US kry wind van voor oor Afrikaans” op Maroela Media gelees het.

Die Universiteit Stellenbosch het oor dekades heen ʼn sterk verhouding met universiteite en akademici in Nederland en Vlaandere opgebou en die US het steeds ʼn samewerkingsooreenkoms met die Universiteit van Leuven in Vlaandere. Bosma en Van Rooy wil hê dat Van Engelshoven en Weyts die verengelsing van die US met hul ampsgenoot in Suid-Afrika moet opneem.

(Foto: pixabay)

Die sewe vrae wat aan die ministers gestel is, is die volgende:

1) Is u bekend met die berig “US kry wind van voor oor Afrikaans”?

2) Het u kennis geneem van die planne van die Universiteit Stellenbosch om Afrikaans vir alle kursusse op “voorgraadse” (baccalaureus-) vlak af te skaf?

3) Deel u die skok oor hierdie voorneme, gegewe die groot simboliese waarde wat Stellenbosch tradisioneel vir die emansipasie van Afrikaans het? En dat die universiteit gebou kon word danksy die Jan Marais Nasionale Fonds, wat Afrikaans of Nederlands as onderrigtaal vereis?

4) Stem u saam dat die afskaffing van Afrikaans op Stellenbosch vermy moet word in die lig van die intensiewe historiese en taalkundige bande tussen Afrikaans en Nederlands?

5) Sien u hierdie ontwikkeling in die konteks van die geleidelike erosie van Afrikaans in die hoër onderwys in Suid-Afrika die afgelope dekades?

6) Is u bereid (binne die raamwerk van die Nederlandse Taalunie) om met u Suid-Afrikaanse eweknie kontak te maak om hierdie rampspoedige verengelsing te voorkom?

7) Hoe kan u die taalverdedigers in Stellenbosch, soos die Departement Afrikaans en Nederlands, ondersteun?

Van Engelshoven en Weyts moet nou skriftelike antwoorde op hierdie vrae lewer. Die Solidariteit Beweging was die afgelope tyd besig om in Europa, en veral in Nederland en Vlaandere, steun te werf vir Afrikaans as akademiese taal. Volgens Jaco Kleynhans, hoof van internasionale skakeling by die Solidariteit Beweging, is dit nodig dat instellings in Suid-Afrika, Nederland en Vlaandere moet saamwerk om te verseker dat Afrikaans en Nederlands as akademiese tale nie verder ondermyn word nie.

“Ons het heelwat reaksie uit die Lae Lande gekry nadat dit aan die lig gekom het dat die US Afrikaans se rol as akademiese taal, maar ook as algemene gebruikstaal op die kampus, verder verskraal. Ons sal later vanjaar saam met vriende in Vlaandere en Nederland ʼn konferensie aanbied om die toekoms van Afrikaans as akademiese taal te bespreek, asook watter oplossings instellings in Nederland en Vlaandere kan help bied. Intussen werk ons ook daaraan om Akademia se samewerking met universiteite en akademici in die buiteland uit te brei.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

12 Kommentare

jongste oudste gewildste
Loveleh

Ek wil bitter graag hul antwoorde hoor.

ES

Ongelukkig kan hulle net hul ontevredenheid stel, maar hiervan gaan niks kom nie. CR en trawante is te anti-Afrikaans of enigiets wat te doen het met witmense om enigsins gehoor te gee hieraan.

Rooikoos

Hulle het die ANC ondersteun gedurende apartheid. Ek weet nie wat hulle nou sal kan doen nie.

Jaco

Taaldiskrimasie is nou die minste van ons probleme. Kla eerder by buitelandse regerings oor plaasaanvalle, plaasmoorde, onteiening sonder vergoeding en regstellende aksie.

akkedismis

Om Afrikaans te red weier om Engels te praat. Ek was vir 40jr n Engelse onderwyser en het die Afrikaanse leerlinge die nodige gereedskap verskaf om Engels met VERTOUE te lees,praat en skryf. Nou praat ek net AFRIKAANS omdat my taal word nie gerespekteer word nie.