Politici se reuseverantwoordelikheid: Plaasmoorde en haatspraak verbind

haatspraak-en-plaasmoord-01

Ernst Roets van AfriForum verduidelik watter impak politici se uitsprake op plaasmoorde het. Foto: Reint Dykema.

Wanneer daar ʼn klimaat geskep word waar wit boere as die vyand uitgekryt word, en politici geweld teen boere aanhits, is daar ʼn duidelike tendens waarin plaasmoorde toeneem.

Dit was die bevindinge van ʼn verslag wat vandag in Centurion deur die burgerregte-organisasie AfriForum bekendgestel is. Die verslag het die impak van politiek en haatspraak op die veiligheid van Suid-Afrikaanse boere ondersoek.

Volgens Ernst Roets, adjunk uitvoerende hoof van AfriForum, bied die verslag ʼn antwoord op die bewering dat die oorgrote meerderheid van plaasmoorde slegs deur misdadige motiewe eerder as rassistiese of politieke faktore gemotiveer word.

Die destydse minister van veiligheid en sekuriteit, Steve Tshwete, het in 2001 ʼn komitee van ondersoek oor plaasaanvalle ingestel. Die komitee se verslag is in 2003 gepubliseer en na ʼn evaluasie van 2 631 sake is bevind dat in 89,3% van plaasaanvalle die motief vir die aanvalle roof was.

“Vir 14 jaar is hierdie studie gebruik om enige kommer oor rasse- en politieke motiewe van plaasmoorde in Suid-Afrika as onbeduidend af te maak. Die verslag het groot klem gelê om plaasaanvallers se eerlikheid rondom hul motief vir hul misdaad en het die hele saak oorvereenvoudig deur te veronderstel dat daar net een motief vir ʼn plaasaanval of -moord kan wees,” het Roets gesê.

Hy het verder aangevoer die verslag het ook nie gepoog om te verklaar waarom wit boere so wreed gemartel word tydens ʼn aanval nie, asook waarom daar so min tydens ʼn aangeval gesteel word nie.

“Die impak van haatspraak en rassisme deur politici kan nie langer ontken word nie. Hulle uitsprake oor grond en boere is vals en afbrekend en die ontkenning van die impak van hierdie uitsprake op die geweld teen boere gaan ons nie nader aan ʼn oplossing vir plaasmoorde bring nie.

“Ons wil met hierdie verslag poog om die debat oor plaasmoorde te lei. Almal het ʼn opinie oor plaasmoorde wat dikwels opgestel word as feite. Daarom is AfriForum baie konserwatief met wat ons sê oor hierdie onderwerp en wil ons altyd ons uitsprake staaf met feite, statistieke en syfers,” het Roets gesê.

Hy meen plaasmoorde is ʼn komplekse verskynsel en dit word regdeur die verslag genoem. “Daar is ʼn wye verskeidenheid van faktore wat bydra tot plaasmoorde, maar haatspraak en rassisme is beslis een van die aspekte wat bydra tot die geweld.”

Roets meen dit is belangrik om te onderskei tussen feite en opinie in ʼn debat oor plaasmoorde. “Mense wat plaasmoorde met ʼn volksmoord op wit boere vergelyk word dikwels afgelag. Plaasmoorde voldoen dalk nie aan die eng definisie van ʼn volksmoord nie omdat dit ʼn misdaad is wat teen ʼn etniese groep binne ʼn spesifieke beroepsgroep gepleeg word. Tog het navorsing bevind dat sou ʼn mens plaasmoorde gelyk stel aan statistiek wat moord per 100 000 mense per jaar definieer sou wit Suid-Afrikaanse boere in die gewelddadigste land en stad in die wêreld woon.”

Die waarnemende polisiekommissaris, lt.genl. Kgomotso Phahlane, het verlede jaar ʼn ooreenkoms met AfriForum vir beter samewerking rondom veiligheid onderteken. Phahlane het gesê die polisie wil plaasmoorde prioritiseer maar Roets meen dit voel of dit steeds nie ʼn prioriteit vir die res van die ANC-regering is nie. “Ons ervaring is die polisie wil ernstiger optree teen plaasaanvallers, maar hulle het nie die ondersteuning van die regering nie. Die polisie kan meestal net reaktief optree, terwyl ons dieselfde soort voorkomende optrede benodig wat koperkabeldiefstal, renosterstropery en die veldtog vir geweld teen vroue en kinders geniet.”

Roets het gesê die internasionale gemeenskap het ook al verskeie keer by die Verenigde Nasies hul kommer oor Suid-Afrikaanse politici se rassisme en haatspraak uitgespreek. “Die VN wil hê die wetsontwerp op die voorkoming en bestryding van haatmisdade en haatspraak moet hieraan aandag gee. Daar is egter nie genoeg riglyne wat hierdie soort uitsprake van politici ondervang nie terwyl die VN voel hierdie soort uitsprake moet ook by politici stopgesit word. Dit is belangrik dat die politieke partye uit eie geledere standpunt teen haatspraak en rassisme teen boere inneem.”

  • Daar is gekyk na vyf spesifieke gevalle waar politici geweld teenoor boere geregverdig het. AfriForum het onder meer na die statistieke rondom plaasmoorde gekyk:
    • Nadat Peter Mokaba op 17 April 1993 “Kill the Boer, kill the farmer” geskree het, het plaasmoorde met 135% toegeneem van ʼn maandelikse gemiddeld van 6,4 moorde na 15 moorde.
    • Julius Malema, toe nog leier van die ANC-jeugliga, het in Maart 2010 “Shoot the Boer” gesing. Plaasmoorde het daarna met 51% toegeneem van 5,3 na agt moorde per maand.
    • Nadat pres. Jacob Zuma op 8 Januarie 2012 “Shoot the Boer” gesing het, het plaasmoorde met 36% van ʼn maandelikse gemiddeld van 4,4 na ses moorde toegeneem.
    • Nadat Ronald Lamola, voormalige leier van die ANC-jeugliga, op 5 Junie 2012 “Mnre. Van Tonder en Van der Merwe” gewaarsku het, het plaasmoorde met 60% toegeneem van ʼn maandelikse gemiddeld van 4,4 tot sewe moorde.
    • Ná Julius Malema, leier van die EFF, se uitsprake oor wit mense in Newcastle op 7 November het plaasmoorde met 92% van 6,25 na 12 moorde per maand toegeneem.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

9 Kommentare

Gerda ·

Ek stem heeltemal saam dat politieke uitsprake ‘n invloed het op plaasmoorde, maar die wiskunde maak nie so mooi sin nie. Nadat die gemiddeld in 1993 toegeneem het na 15 moorde per maand, was dit in 2010 weer op 5.3. So dit het weer afgeneem. Verder het die gemiddeld weer van 5.3 en toe 8 afgeneem na 4.4 in 2012. Van 1993 tot 7 November 2016, voor Malema se uitsprake, het die gemiddeld eintlik afgeneem. So waaroor ek wonder: oor watter tydperke was hierdie gemiddeldes bereken voor en na die toenames waarvan hulle praat? Dit is seker in die verslag beskryf, maar soos dit hier gegee is, is nie baie duidelik nie. ‘n Grafiek sou nou gaaf gewees het.

Reinhardt ·

Stem saam, ‘n grafiek sal dit baie beter en meer eenvoudig kan verduidelik.

Johann ·

Sien DIS ons grootste struikelblok! Interpretasie van verskillende statistieke op verskillende platvorms. Hoe oortuig jy n massa slaafse navolgers van kospakkies en T Shirts dat daar iets soos STATISTIEKE en FEITE en WAARHEID is?

Enna ·

Ek dink dis wreed soos die poletiek geword het en mense en arme kinders wat niks daarmee te doen het nie vermoor een verbind word. Die plaas moorde is beslis polities aangepor. Toe ek die ander dag weer hoor hoe ons wit boertjies moet oppas as die EFF in beheer kom .moet hulle oppas want hulle is nie bang nie het ek te bang geword om vir my vriende op plase te gaan kuier. Die onskuldiges moet agter tralies sit en die moordenaars loop los.

Johann ·

Ek probeer sin maak van almal se “kommentare” en statistieke en verduidelikings en verklarings en oproep tot of kalmte of selfbeveiliging of…vanoggend op JAKARANDA het Rian n taamlike wye net gegooi rondom dieselfde fokus. Vir een n stukkende hartseer realiteits gesprek met van die oorlewende slagoffers. Vanmiddag op Martin Bester se.program…nog n program oor die obskure wreedheid van aanvalle op mense. Feit bly: hoe bevestig mens die WARE statistieke en feite aan n “polities slaafs navolgende massa” wat hoogs beinvloedbaar is? WARE geskiedkundige feite word op skool al of weerhou of verdraai; publieke sotlikhede oor geskiedkundige feitlike verloop van ons land word as putu pap opge eet? Hoe hou jy aanhitsers van anargie tot beskerming van hul.eie agendas soos staatskaste leegsteel verandwoordelik vir hul barbaarse houding?

Grassie ·

Nadat die Zoeloekoning so ongeveer twee jaar gelede tydens ‘n toespraak genoem het dat buitelanders nie in sy land hoort nie en moet skoert, was daar sommer van die volgende dag af kwaai aanvalle op hulle. Honderde winkels is geplunder en ‘n hele paar uitlanders het die spit afgebyt. Uitlatings deur Zuma, Malema en ‘n hele paar ander swart leiers dat die witmense hulle grond gesteel het en vir al hul ellendes verantwoordelik is, ook met slagspreuke soos “kill the Boer” en “bring my masjiengeweer” het dieselfde effek. Die aanvalle neem baie toe en die wreedheid tydens die aanvalle dui op haat teenoor die wittes. Die aanvallers weet dit is onwettig en dat hulle tronk toe sal gaan as hulle gevang word, maar hulle voel dat hul optrede moreel geregverdig is, want volgens hul leiers is ons mos die vrot appels in die gemeenskap wat vir alles wat sleg is verantwoordelik is.
Ek laat my nie vertel dat daardie swart leiers nie vooraf geweet het dat hul uitsprake daardie optredes tot gevolg het nie. Hulle hoef nie spesifieke mense te taak om te gaan moord pleeg nie, hulle stook net op dan volg die aanvalle vanself en dit kan nie met hulle verbind word nie.

Johan ·

Volgens die berig is die leiers van die anc en eff direk verantwoordelik en of medepligtend vir elke plaas aanval en moord. Wat is die rede dat hulle dan nog vry rondloop?

John ·

Dis presies die effek wat hulle op hoop… dalk nog meer… Die vraag is nou wat gaan ons daaromtrent doen? Dit sou ‘n plan wees om massas klein byeenkomste vir Afrikaners regoor die land te hou (waartydens die veiligheid van die teenwoordiges verseker kan word). Hiertydens kan sake, vrese en idees bespreek word. Insette van die gemeenskappe kan van groot nut wees en nuwe idees kan planne van aksie help uitstippel. Die ANC ea hou elke week byeenkomste en die Afrikaners kyk maar sport en wonder wat dink hul mede-Afrikaners. Maar wie sulke vergaderings lei is krities. Nie predikante nie en ook nie Engelse nie en ander rasse doen hul eie ding. Dit betrek ook nie net boere nie. Dalk kan mnr Buys en ‘n paar kundiges oor veiligheid en sake van belang gesels wat die gesprekke verder kan laat vlot en gemeensaamheid bevorder.

Cecilia. Tjaden ·

Ek stem heelhartig saam met John – kom ons begin met klein Afrikaner vergaderings dwarsdeur SA.
Anders, hulle gaan vir ons vang met ons broek op die kniee. Anc hou weekliks vergaderings, hulle stem saam, en wat doen ons?
Die Voortrekkers het nie net gebid nie!

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.