Politiek rede vir waterkrisis – AfriForum

Argieffoto

Argieffoto

Die burgerregte-organisasie AfriForum is van mening dat die waterkrisis in Suid-Afrika hoofsaaklik deur die politieke bewaarders van ons water veroorsaak word.

Volgens Julius Kleynhans, AfriForum se hoof van omgewingsake, lei die gebrek aan politieke wil van die regering om waterverwante sake volhoubaar te hanteer tot ’n waterkrisis in Suid-Afrika. “Ons het gesien dat verskeie waterverwante kwessies regdeur die land die gehalte en voorsiening van ons water beïnvloed, maar dit wil voorkom of politiek verhoed dat volhoubare oplossings toegepas word om daardie kwessies te hanteer,” het Kleynhans gesê.

“Dit is duidelik dat die huidige politieke beleide ’n direkte impak op ons waterdienste het. Onbevoegde personeel bly in hulle poste as gevolg van politieke beleid, onverantwoordelike bestuur lei tot niebetaling vir kritieke dienste aan byvoorbeeld Eskom vir elektrisiteit, of aan waterdiensverskaffers, en samewerkende regering lei daartoe dat plaaslike owerhede nie aanspreeklik gehou word vir besoedeling of ander kriminele aktiwiteite nie,” het Kleynhans gesê.

“Ons het hierdie jaar gesien dat babas sterf, nog riviere besoedel word, infrastruktuur verval en ’n metrostad sonder water sit. Die ekonomie word deur die nalatigheid van die bewaarders van ons water beïnvloed,” het Kleynhans bygevoeg.

AfriForum glo dat die volgende toegepas moet word om volhoubare bestuur van Suid-Afrika se waterbronne te verseker:

1. ’n Onafhanklike waterreguleerder moet ingestel word om as waghond op te tree en te verseker dat die publiek se belange beskerm word deurdat die departement van water en sanitasie, waterrade en alle munisipaliteite aan bestaande wetgewing voldoen. Die kapasiteit van die privaat sektor in hierdie land moet op ’n groter skaal benut word om waterdienste te bestuur sodat goeie gehalte watervoorsiening, belegging en billike pryse verseker kan word.
2. Beleide moet verander word om te verseker dat professionele en bevoegde personeel in diens geneem word.
3. Tenders moet deur professionele persone geëvalueer word en aan spesialismaatskappye toegeken word.
4. Behoorlik-befondsde instandhoudings- en werkskontrakte moet aan bevoegde maatskappye toegeken word.
5. Opvoedingsprogramme moet op alle vlakke toegepas word om Suid-Afrikaners oor water op te voed.
6. Die Bloudruppelverslag vir 2014, asook die Groendruppelverslag vir 2013, moet binne sewe dae vrygestel word – die publiek het die reg om te weet.

“As ons wil hê dat die ekonomie moet groei, en ’n volhoubare voorraad water van ’n goeie gehalte wil verseker, moet ons radikale veranderings binne die portefeulje vir water en sanitasie in Suid-Afrika hê,” het Kleynhans gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.