Politieke bande het Guptas se bankrekeninge gesluit

Pravin Gordhan. Foto: Flickr/GovernmentZA

Pravin Gordhan. Foto: Flickr/GovernmentZA

Pravin Gordhan, minister van finansies, het Oakbay Investments se bewering, dat banke hul verhouding met die Gupta-beheerde maatskappy gesluit het omdat hy saamgespan het teen die familie, verwerp en gesê dit is eintlik hul politieke bande wat tot die besluit gelei het.

Gordhan het in sy repliek gesê nie hy, of die Reserwebank, het enige van die groot banke, Absa, Standard Bank, First National Bank, FirstRand of Nedbank, beïnvloed om die maatskappy se rekeninge te sluit nie.

“Bankkliënte se verbintenisse met politieke persone aktiveer die banke se nasionale en internasionale wetlike verpligtinge,” het Gordhan gesê. “Elkeen van die banke beskou homself onder ʼn wetlike verpligting wat betref internasionale en plaaslike statutêre instrumente en daarom is Oakbay se rekeninge gesluit.”

Gordhan se beëdigde verklaring is Maandag ingedien en dit is die jongste voorlegging in ʼn regstryd wat verlede jaar begin het toe Gordhan die Pretoriase hooggeregshof versoek het om ʼn bevel uit te reik dat hy onder geen verpligting is om namens Oakbay in te gryp nie, nadat die banke die maatskappy se rekeninge gesluit het.

Gordhan het gesê Oakbay se aanval teen hom in hul verklaring, dat hy polities teen hulle saamspan, maak nie sin nie, aangesien die maatskappy hom in dié geval nooit sou genader het om hulp nadat die banke hul rekeninge gesluit het nie. “As Oakbay regtig oorweeg het dat ek ʼn veldtog teen die maatskappy van stapel gestuur het, sou Oakbay my natuurlik nooit genader het vir hulp nie,” het hy in sy verklaring van 103 bladsye, gesê.

Hy het in ʼn verklaring in Oktober verlede jaar bekend gemaak dat betalings ter waarde van R6,8 miljard in 72 transaksies, deur die Gupta-familie en -maatskappye, deur finansiële owerhede as “verdag” gemerk is. Hy het die banke versoek om die vertroulike verslae aan die hof bekend te maak, sodat Oakbay se bewering, dat hulle onbehoorlik opgetree het, getoets kan word.

Gordhan het Maandag in sy verklaring dit benadruk dat Oakbay hom genader het om die banke te nader “in nasionale belang”.

Hy het gesê dit is ironies dat Oakbay hom van ʼn politieke motief beskuldig het, wanneer die eienaars van die maatskappy self beskuldig word van onbehoorlike ingryping in regeringsbesluite. “Die openbare beskermer het bevind dat Oakbay politieke aanstellings beïnvloed het.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

miv ·

Pravin Gordan het hom nie deur die Guptas en hul politieke maatjies om die bos laat lei nie, nou is hulle kwaad vir hom en probeer hom met allerhande slinkse planne skade te berokken. Mnr Gordan, weet net, baie Suid-Afrikaners bid vir jou.

christine ·

Wat soek die mense nog van ons? Hulle is bloedsyers en hoort in Amerika. Waar iemand met n rugraat hulle netjies hul land kan wys

Werner ·

Dit is nou dieselfde Gupta’s wat alles sou verkoop het teen Desember 2016.

Scalla ·

Gelukkig is daar finansiele wette in plek wat deur instellings nagekom moet word, en n blanke prokureur probeer ook nog geld daaruit maak.

jaco ·

mense wat nou so oor die Guptas kla moet net onthou dat hulle oorspronklik reeds in 1993 hulle WETTTIGLIK in SA gevestig het. Die ou wit Nasionale Party regering het vir hulle verblyfreg en besigheidsregte gegee.

Pieter ·

Ja. Net soos die vorige regering ook verantwoordelik was vir honderde ander maatskappye wat hulself voor 1994 hier gevestig het. Soos Barclays, Standard Bank, en menigte ander ordentlike besighede. Jy blameer nou die dokter wat die baba in die wereld ingebring het, terwyl jy moet kyk na die ouers wat die kind grootgemaak het voor hy ‘n massamoordenaar geword het.

John ·

Ja-nee het hul 2e asem gekry en is volstoom besig om op hul tv-stasie en in die ou-bekende-orde-dagblad die volk te bearbei vir die aanstel van die x-faktor, die ‘why’-vraag tee te staan en die land in ‘n immer zzzz-staat weggedompel te hou. Diegene wat hul poppe-regering opponeer en die banke wat nie wil saamspeel nie word geteiken met die hulp van die
wulpse-veeleisende-super-raadgewende-ultra-alwetende-jeugdige-instansie wat oorleef met ‘n inkomste vanaf…?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.