‘Politieke inmenging’ gevrees in aanstel van Wes-Kaapse polisiehoof

Genl. Khehla Sitole, nasionale polisiekommissaris, en die polisieminister Bheki Cele. (Foto: Phando Jikelo/ANA)

Die polisie se besluit om die pos van Wes-Kaapse polisiehoof wéér te adverteer, is deur Albert Fritz, die LUR vir gemeenskapsveiligheid in die Wes-Kaap, gekap.

Die aankondiging dat die pos weer geadverteer word, is Maandag gedoen. Fritz sê dit dui op “hoëvlak-ANC-inmenging in die polisie en die regering se werwingsprosesse”.

Fritz het gesê die besluit is geneem ná ʼn vlaag klagtes deur die ANC se Wes-Kaapse sekretaris-generaal, Faiez Jacobs, en die adjunk- provinsiale speurhoof, genl.maj. Jeremy Vearey.

Fritz het gesê die besluit om nie die pos te vul nie, dit eerder weer te adverteer en intern in die polisie te vul, is deur die polisiehoof, genl. Khehla Sitole, in ʼn brief aangekondig.

Luidens die brief sal daar verdere korrespondensie wees oor die samestelling van ʼn keuringspaneel wat die aansoeke vir die pos gaan oorweeg.

“Dit is kommerwekkend dat ʼn proses, wat in ooreenstemming met die Grondwet en verwante wetgewing gevolg is, nou weer begin word omdat ʼn polities verwante kandidaat [Vearey] nie op die kortlys is nie. Nie net is dit ʼn growwe skending van vertroue in die paneel nie, maar ook ʼn regskending. Ek gaan dringend regsadvies kry oor die wetlikheid dat die proses van voor af begin is,” het Fritz gesê.

Volgens hom het die Wes-Kaapse polisie ʼn geskiedenis dat dit weens politiekery verswak word.

“Die Wes-Kaap kan nie ʼn oomblik langer wag dat ʼn provinsiale kommissaris aangestel word nie. Die provinsie word geteister deur misdaad, die polisie ly onder ʼn gebrek aan menslike en fisieke hulpbronne, daar is talle bewerings van korrupsie in die polisie en die polisieforumverkiesings vereis strategiese leierskap van ʼn provinsiale kommissaris wat die veiligheid van die provinsie bo álles stel.”

Dit is onduidelik wanneer die proses nou afgehandel gaan word. Fritz het gesê wanneer dit wél gedoen word, is dit “uiters belangrik” dat die suksesvolle kandidaat die hoë misdaadvlakke prioritiseer.

“Die Wes-Kaap kan nie bekostig dat die ANC politieke speletjies met dié aanstellingsproses speel nie,” het hy gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Hagar ·

Moet hul wyse van regering dan alyddeur met bedenklikheid gekenmerk word. Dit spreek boekdele van integriteitloosheid.

aj ·

Die ANC GANGSTERSTATE soek ‘n geskikte ‘polisie gangster’ wat hulle kan ontplooi binne die Weskaap … wat die Weskaap kan kaap vir die ANC!

Staatsamptenaar ·

In my geval ook gebeur. In ‘n tydperk van 2-jaar drie keer vir die onderhoud gegaan, ek was telkens die beste op praktiese toetse en die onderhoud. Selfs gestuur vir psigometriese toetse. Toe word ‘n kader in die proses ingebring wat op ‘n baie laer vlak was as ek en die laaste onderhoud se vrae word op sy CV en ondervinding gebaseer en praktiese toetse word geskrap. Kader kry die pos en my navrae word onder die mat ingevee.

George in Bloem ·

Waar was hieedie ou die afgelope 25 jaar van ANC utopia? Kyk om jou my ou. Politieke aanstelling in elke liewe staatsinstelling is presies hoekom die land besig is om sy gat te sien. Dis nie net in die polisie nie.

Ferdie ·

Die hele bestuur as jy dit so kan noem van polisie is hopeloos.

KrokodilBotha ·

Die vrot is klaar orals, al die skuiwe is maar net vir show Mnr Fritz.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.