Politieke kenners sê oor nuwe kabinet

Patricia de Lille. Foto: ANA

ʼn Geweldige verwagting is geskep rondom die verkleining van die kabinet wat dalk effens onrealisties was gegewe waar die ANC, die regering en die land homself nou bevind.

Dít is die mening van Roland Henwood, ʼn politieke ontleder verbonde aan die Universiteit van Pretoria. Henwood sê dit was ook vir hom duidelik dat pres. Cyril Ramaphosa nie so ʼn vrye hand in die opstel van sy kabinet gehad het nie en dat hy talle kompromieë moes aangaan.

“Ramaphosa het wel daarin geslaag om ontslae te raak van die ministers uit oudpres. Jacob Zuma se administrasie wat die grootste kritiek ontlok het. Daar is wel nog ministers uit Zuma se tyd in die kabinet ingesluit, maar hulle is nou as adjunkministers aangestel wat ʼn duidelike verandering van rangorde is.”

Hy het hier onder meer verwys na David Mahlobo wat hom aanvanklik omstredenheid op die hals gehaal het as minister van staatveiligheid en energie en nou as adjunkminister by menslike nedersetting, water en sanitasie onder Lindiwe Sisulu sal dien.

Die verrassing van die aand: Aunty Pat

Politieke ontleders wat Donderdagoggend met Maroela Media oor pres. Cyril Ramaphosa se nuwe kabinet gesels het, het gesê hulle het almal verwag dat iemand buite die ANC in die kabinet aangestel word, maar hulle het glad nie verwag dat dit Patricia de Lille sou wees nie.

“Dit is nie ʼn nuwe gebruik nie; elke ANC-regering het iemand uit die opposisie in hulle kabinet ingesluit, maar ek dink wel dit dui op die swak toestand van die ANC in die Wes-Kaap. Ramaphosa het beslis uitgereik na die kiesers, veral die bruin gemeenskap, in die provinsie.

“Ek dink ook dit was ʼn manier om ʼn vinger in die DA se oog te druk en te sê kyk wat het julle met De Lille gedoen, maar ek is bereid om haar deel van my regering te maak,” het Henwood gesê.

Hy meen die groot uitdaging vir De Lille is nou dat sy deur die ANC ingesluk kan word. “De Lille is berug daarvoor dat sy ʼn party stig wat later in ʼn groter party opgeneem word en verdwyn. Dit is die risiko vir haar en ek dink dieselfde gaan weer gebeur.”

Prof. Lesiba Teffo, ʼn politieke ontleder verbonde aan Unisa se instituut van Afrika Renaissance- studies, het egter geen doekies omgedraai nie: “De Lille het haar kiesers se vertroue verraai en hulle intelligensie beledig, maar dis ongelukkig hoe dit soms in Afrika-politiek gaan, die politikus is dikwels belangriker as die kiesers.”

Blade Nzimande is nou weer minister van hoër onderwys en opleiding, asook wetenskap en tegnologie. (Foto: ANA/Jacques Naude)

Gemengde reaksie oor minister Nzimande

Theo Venter, politieke ontleder verbonde aan die Noordwes-Universiteit, sê Ramaphosa kon kwalik ʼn swakker aanstelling as Blade Nzimnde by die departement van hoër onderwys en opleiding maak, wat nou ook wetenskap en tegnologie insluit.

Teffo het egter Nzimande se heraanstelling in die amp verwelkom. “Nzimande is passievol oor beroepsopleiding en vakmanne. Ons het beslis baie meer van dié soort opleiding nodig. Die mense kan vir hulleself werk en werk skep vir ander mense.”

Henwood meen Nzimande se aanstelling sal kritiek uitlok, maar dat Ramaphosa daarin geslaag het om kontinuïteit in die departement te skep met die behoud van die adjunkminister, Buti Manamela.

Talle goeie en doelgerigte aanstellings

Die ontleders meen die Ramaphosa-kabinet bevat talle aanstellings waaroor daar deeglik besin is.

Henwood het gesê die aanstelling van Thoko Didiza as minister van landelike ontwikkeling en grondhervorming is een so ʼn voorbeeld.

“Sy is ʼn sterk en bewese leier in die ANC met kabinetservaring wat die pos ook insluit. Interessant genoeg is Didiza elke keer in die Zuma-tyd ingeroep om sake op te los waarmee die ANC gesukkel het hoewel sy nie ʼn meeloper van Zuma was nie.”

Teffo het gesê sy gunsteling-aanstellings in die kabinet was dié van Bheki Cele en Pravin Gordhan. “Ek is ook bly oor Didiza se aanstelling en Aaron Motsoaledi wat nou aan die hoof van die departement van binnelandse sake staan.”

Hy was veral ook opgewonde oor Naledi Pandor se aanstelling in die departement van internasionale betrekking en samewerking.

“Pandor is ʼn uitstekende administrateur en het goeie menseverhoudinge. Ek dink hierdie is die beste aanstelling wat ons in baie lang tyd in die departement het,” het Henwood bygevoeg.

Tito Mboweni. Foto: Elmond Jiyane, GCIS

Mboweni en Gordhan

Die politieke kenners was dit egter eens dat die meeste mense gewag het om te hoor wie die minister van finansies en openbare werke sou wees.

“Ek dink dit was te wagte dat Mboweni en Gordhan weer hier aangestel sou word,” het Henwood gesê.

Venter het gesê die ministers se heraanstelling is bewys van Ramaphosa se verbintenis tot die stabiliteit wat die markte verwag. “Hulle taak is nou om die ekonomie op dreef te kry en vertroue te herstel in die sektor waar Suid-Afrika tans die swakste presteer; die staatsbeheerde instellings.”

Hoewel Suid-Afrikaners vrae gehad het oor die talle adjunkministers wat aangestel is, het Venter gesê hy dink Ramaphosa het ʼn goeie besluit gemaak om Nkosazana Dlamini-Zuma saam met Parks Tau en Obed Bapela as haar adjunkministers aan te stel.

“Dit is ʼn sterk en belangrike span omdat die munisipale verkiesing nou binne die volgende twee jaar plaasvind. Dlamini-Zuma het haarself bewys in die manier waarop sy die administrasie van Noordwes hanteer het. Sy het kritiese vaardighede en is streng genoeg om teen persone op te tree, terwyl sy weet wat om te doen en dit laat gebeur.”

Nog ʼn persoon wat volgens Venter haarself nou in ʼn “warm patat- posisie” bevind is Lindiwe Sisulu wat nou minister van menslike nedersetting water en sanitasie is.

Venter sê ná die posisie van adjunkminister in die kabinet is die pos van internasionale betrekking waarskynlik die volgende belangrikste pos in die kabinet.

Sisulu is waarskynlik uit dié pos geskuif omdat daar ontevredenheid was met die manier waarop sy sake soos die gradering van die Israelse ambassade en Venezuela hanteer het. Dit is iets wat Henwood beaam.

“Ek dink egter Sisulu het die nodige ervaring om Ramaphosa se beloftes oor behuising uit te voer. Sy is ook die regte persoon om Nomvula Mokonyane se brouwerk by die departement van water en sanitasie reg te ruk,” het Venter bygevoeg.

ʼn Goeie begin

Die FW de Klerk-stigting het in ʼn mediaverklaring gesê Ramaphosa se nuwe kabinet is ʼn goeie begin, maar het gevra die president moet sy oog op die ontwikkelinge by Luthuli-huis hou.

“Diegene wat nie geskik vir die president se kabinet was nie, bevind hulleself nou by die ANC se hoofkwartier onder die leiding van ʼn persoon wat nie noodwendig belyn is met Ramaphosa se hervormingsagenda nie.

“Die gevaar is nie onmiddellik nie, maar kan te voorskyn kom wanneer daar in die toekoms oor die party se provinsiale strukture besluit moet word.”

Die stigting het gevra dat Ramaphosa sy werk in die regering in die belang van alle Suid-Afrikaners moet doen en nie moet toelaat dat persone met ʼn selfsugtige agenda by Luthuli-huis sy goeie pogings kaap nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Andreas ·

Betreffende Patricia de Lille. Haar Good-party, wat sy sommer nie lank gelede nie gestig het, het nasionaal maar 70,408 stemme gekry. Iets maak nie sin oor waarom Cyril haar in sy kabinet wil hê nie. Dit sou interessant wees as hy sy werklike rede met ons sou kon deel.

Lerato ·

Die VF+het niks gedoen toe hulle 4 lede in die parlement gehad het.
Gaan hulle nou minder doen nou dat hulle 10 lede in die parlement het?

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.